OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Riemvasmaak, De Rust, met nege vorige veroordelings, is in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van vyf jaar opgelê nadat hy op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is.
Jan Blaauw (40) het op 28 Januarie 2023 vir Wilma Potgieter, 'n vrou met wie hy in 'n verhouding was, met 'n kous waarin 'n gholfbal toegedraai was, geslaan, haar op die grond neer-gegooi en probeer om haar met 'n skerp voorwerp te steek.
Op 6 Januarie 2024 het hy haar met 'n klip teen haar arm gegooi.
Twee ander aanklagte, die besit van 'n gevaarlike wapen en diefstal van 'n gaskan, is deur die staat teruggetrek.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnis-oplegging gesê dit is duidelik dat Blaauw gou kwaad word en vorige vonnisse hom nie afgeskrik het nie.
Hy is deur die hof gewaarsku dat hy 'n volgende keer die bloubaadjie kan kry.
Die hof het in ag geneem dat hy reeds 'n jaar en vier maande tronkstraf uitgedien het en die twee klagtes vir vonnis saamgeneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’