OUDTSHOORN NUUS - ’n Vrou (43) van Oudtshoorn, wat skuldig bevind is op 36 aanklagte van diefstal en ’n 100 van bedrog is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir twee jaar in huisarres geplaas.
Rhodene Anthony, ’n ma van drie kinders, het tussen Januarie 2016 en Maart 2018, terwyl sy in diens van Oudtshoorn Foodlovers was, R146 000 van haar werkgewer gesteel en fakture vir De Zeekoei ten bedrae van meer as R103 000 vervals, tot haar eie voordeel.
Volgens die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het sy nie uit nood gesteel nie en het hy die hof vir direkte gevangenisstraf gevra.
Hooflanddros Ryan van Harte het met vonnisoplegging gesê Anthony het byna nege jaar geneem voordat sy sekere erkennings gemaak en uiteindelik skuldig gepleit het.
Die hof het vir vonnis in ag geneem dat Anthony ’n weduwee is wat vir twee minderjarige kinders sorg, en die maatskaplike werker, Claricka Stuurman, bedank wat die hof grootliks gehelp het ten opsigte van die twee kinders se belange.
Anthony is gevonnis tot drie jaar tronkstraf vir diefstal wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, en twee jaar korrektiewe toesig vir bedrog, wat behels 24 uur per dag in huisarres vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Sy moet haar ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms. Voorts het die hof gelas dat sy die klaers om verskoning moet gaan vra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’