DE RUST NUUS - 'n 34-jarige man van Nelsrivier, De Rust, wat sy saamleefmaat met wie hy al vir 17 jaar in 'n verhouding is, het haar op die grond neergegooi en met die vuiste geslaan.
Hy is in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Gerrit Plaatjies het skuldig gepleit. Volgens hom het hy na werk huis toe gekom en gevind dat die huis nie aan die kant was nie en sy saamleefmaat nie tuis was nie.
Sy was dronk toe hy tuiskom en dit het hom baie kwaad gemaak, maar hy is innig jammer oor wat hy gedoen het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê mans wat hul hande vir vroue oplig is lafhartig en dit is nie hoe dit werk nie.
Hy is ook nie so seker of dit wel die eerste keer is dat Plaatjies sy saamleefmaat aangerand het soos wat in die hof gesê word nie.
"Vroue kom met allerhande stories na die hof net om die man wat hulle aanrand buite die tronk te hou."
Plaatjies is ses jaar tronkstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur per dag onder huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’