OUDTSHOORN NUUS - Vier rowers van Dysselsdorp, waarvan twee jeugdiges was toe hulle die misdaad in 2024 gepleeg het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot altesaam 24 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Jacobus Bessie (22), Riaan Koopman (23) en twee minderjariges het op ’n aand in Oktober 2024, met ’n gesamentlike doel opgetree toe hulle in St Conradstraat, Dysselsdorp, die winkel van Aslam Molla, ’n buitelander, binnegegaan en geld ge-eis het.
Twee het Molla met ’n klip gedreig en R350 uit ’n geldlaai geneem, terwyl die ander twee in die deur van die winkel gestaan het om te keer dat hy wegkom en hulp gaan soek.
Die vier het skuldig gepleit en hul pleitverduidelikings is deur die staat aanvaar.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Bessie en Riaan Koopman elk tot sewe jaar tronkstraf gevonnis terwyl hulle twee medebeskuldigdes elk tot vyf jaar gevangenisstraf opgelê is.
Die hof het gelas dat laasgenoemde twee hul vonnisse in die Brandvlei-gevangenis in Worcester sal uitdien waar hulle vaardigheidskursusse moet deurloop en nie vir parool aansoek kan doen nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’