OUDTSHOORN NUUS - Kabeldiewe het die langdurige kragonderbreking in Oudtshoorn glo benut om derduisende rande se kragkabels by die Bridgton-sportterrein te steel.
Oudtshoorn Courant het Dinsdag 18 Augustus na aanleiding van verskeie boodskappe uit die gemeenskap die sportterrein besoek. Daar is verskeie oop slote aangetref waar, volgens inligting wat aan die koerant verskaf is, meer as 40 meter kragkabel reeds uitgegrawe en gesteel is.
In ’n poging om verdere verliese te voorkom, het werkers na bewering kabels wat reeds oopgegrawe was, maar nog nie deur die diewe verwyder is nie, self uitgehaal en in veilige bewaring geplaas.
’n Lid van die gemeenskap, wat anoniem wil bly, sê inwoners weet glo wie vir die kabeldiefstal verantwoordelik is en dat die name volgens die persoon reeds aan die polisie verskaf is.
“Hulle kom selfs in die dag as die personeel weg is, om kabels te steel,” het die persoon, wat naby die sportterrein woon, gesê.
Die gesteelde kabels voorsien krag aan die spreiligte by die sportterrein. Die kabeldiefstal kom te midde van die huidige kragkrisis in Oudtshoorn, wat sedert Saterdag duur.
Oudtshoorn Courant het die Oudtshoorn-munisipaliteit om kommentaar gevra oor die kabeldiefstal, asook of enige ander munisipale infrastruktuur sedert die begin van die kragonderbreking beskadig of gesteel is.
Die munisipaliteit se reaksie word afgewag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’