OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van 'n 18-jarige gr. 11-leerder van 'n hoërskool in Oudts-hoorn, wat teregstaan op aanklag van moord, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof uitgestel.
Die saak is tot vandag, 13 Augustus, vir 'n korrektiewe verslag en die voortsetting van die borgtogaansoek uitgestel.
Die verdagte word daarvan aangekla dat hy op Saterdag 1 Augustus in Aprilstraat, Bridgton, 'n 25-jarige man, Dillon Smith, na bewering met 'n mes in die bors gesteek het.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, was die verdagte en Smith voor 'n huiswinkel in 'n woordewisseling betrokke toe die verdagte na bewering 'n mes uitgehaal en Smith gesteek het.
Hendricks het aan die hof gesê 'n vrou wat by haar kombuisdeur gestaan het, het die voorval gesien, maar kon nie hoor waaroor die twee mans gestry het nie.
Die polisie het aanvanklik borgtog teengestaan, onder meer omdat die verdagte na bewering in Desember 2025 'n 60-jarige man met 'n klip teen die kop geslaan het. Dié saak is intussen tydelik van die hofrol verwyder.
Die hof het ook kennis geneem van die beweerde probleme wat die verdagte by sy skool ondervind. Volgens Hendricks het hy na bewering 'n onderwyser met 'n horlosie gegooi en 'n medeleerder met 'n potlood gesteek. Hy sou ook gereeld met ander leerders baklei het.
Die hof is ook meegedeel dat die skool weens dié beweerde gedrag 'n brief aan sy ouers gestuur het en dat hy vir 'n tydperk slegs toegelaat is om die skool by te woon om eksamens af te lê.
Daar is ook bewerings dat die verdagte dwelms gebruik.
Landdros Zuastrid Deyce het egter aan Hendricks uitgewys dat die verdagte, ná die verwydering van die vorige saak van die hofrol, geen hangende sake het nie.
Hendricks het daarna aangedui dat die staat nie borgtog sal teenstaan nie, mits streng borgtogvoorwaardes opgelê word.
Die verdagte se regsverteenwoordiger, Rasaad Goliath, het die hof versoek om borgtog toe te staan. Hy het aangevoer dat dit in belang van geregtigheid is, aangesien die verdagte 'n vaste woonadres en sterk familieondersteuning het. Hy het ook daarop gewys dat die polisieondersoek nog 'n geruime tyd kan duur.
Bertram Konstabel tree namens die staat op.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’