OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R2 000 is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof aan 'n 41-jarige vrou van Oudtshoorn toegestaan.
Sy staan tereg op vier aanklagte van bedrog nadat sy glo verskeie mense met vals beloftes oor die verkoop van meubels en ander huishoudelike toebehore ingeloop het.
Rehanna Khatib het na bewering die items aan mense wat sy ken verkoop terwyl sy dit nie besit het nie.
Sy het 'n deposito gevra, maar nooit die meubels en toebehore verskaf en ook nie die deposito's terugbetaal nie.
Khatib se regsverteenwoordiger, Rasaad Goliath, het die hof vir borgtog gevra omdat sy nie 'n vlugrisiko is nie en alle borgtogvoorwaardes sal nakom.
Die staatsaanklaer, Leandre Rhodes-Mei, het borgtog teengestaan uit vrees dat Khatib sal voortgaan om bedrog te pleeg.
Landdros Ndwandwa het egter borgtog toegestaan op voorwaarde dat die beskuldigde nie by verdere misdaad betrokke raak nie, en ook nie met staatsgetuies kontak maak nie.
Die saak is daarna vir verdere ondersoek tot 27 Maart uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’