OUDTSHOORN NUUS -
Borgtog van R1 000 is Maandag 30 Desember in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n onderwyser van 'n laerskool in Bridgton in Oudtshoorn, wat aangekla word van aanranding van sy vrou, asook opsetlike saakbeskadiging.
Die 53-jarige man het na bewering sy 49-jarige vrou geklap en haar voertuig beskadig. Hulle is 28-jaar getroud.
Sy regsverteenwoordiger, Adv Benito Metembo, het die hof om borgtog gevra omdat hy 'n eerste oortreder is, oor 'n vaste werk beskik en nie ‘n vlugrisiko is nie. Hy sal ook nie wegbly vir sy hofverskynings nie.
Die staatsaanklaer, Lise Creamer, het nie borgtog teengestaan nie, op die voorwaarde dat die applikant, op versoek van die klaer, 'n alternatiewe blyplek kry en wegbly van haar.
Hooflanddros Ryan van Harte het borgtog met streng voorwaardes toegestaan.
Die hof het ook 'n beskermingsbevel ten gunste van die klaer gemagtig, wat die beskuldigde verbied om enige kontak met haar te maak.
Hy is ook gewaarsku omdat hy as 'n eerste oortreder is, hy tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis kan word indien hy enige van die voorwaardes verontagsaam.
Die saak is tot 23 Januarie 2025 uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’