OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan ’n man wat sy huisarresvoorwaardes verontagsaam het en sy voormalige meisie en ma van hul tweejarige kind, weer aangerand het.
Die 24-jarige Rowan Lewien wat in September 2024 tot drie jaar korrektiewe toesig met huisarres vir 24 uur per dag gevonnis is, word daarvan aangekla dat hy twee maande later, op 2 November 2024, van sy toesigvoorwaardes verontagsaam het en wéér die 18-jarige klaer aangerand het.
Die voorval het by ’n taverne in 18de Laan, Bongolethu, plaasgevind terwyl hy tuis moes wees. Hy het die klaer en ’n vriend eers met klippe gegooi en haar later geklap en op die grond neergegooi. Volgens haar is hulle nie meer ’n paartjie nie.
Die ondersoekbeampte het borgtog teengestaan omdat Lewien nie voorwaardes van die hof nakom nie en waarskynlik weer die klaer sal aanrand.
Landdros Ryan van Harte het bevind dat Lewien die veiligheid van die klaer in gevaar stel.
Die saak is vir ‘n streekhofbeslissing tot 6 Februarie uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’