LADISMITH NUUS - Die liggaam van ’n baba is Maandagmiddag, 18 Mei, in ’n stuk veld naby Mossiestraat in Ladismith ontdek, ’n ontstellende vonds wat skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is ’n dossier vir die verberging van ’n geboorte geopen nadat die baba se liggaam omstreeks 17:45 gevind is.
“Lede van die Ladismith-polisie is na die toneel ontbied nadat die ontdekking aangemeld is. Met hul aankoms is hulle na die liggaam geneem, waarna paramedici ontbied is en die baba op die toneel dood verklaar is. ’n Soektog na die moeder is intussen van stapel gestuur. Die polisie doen ’n beroep op enige persoon met inligting wat kan help om die moeder op te spoor, om na vore te kom.”
Inwoners het sedert die liggaam gevind is hul skok en hartseer op sosiale media uitgespreek en die voorval ten sterkste veroordeel.
Enige persoon met relevante inligting kan die plaaslike polisie kontak of anoniem inligting deurgee via Crime Stop by 086 0010 111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’