OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n 24-jarige man van Prins Albert, wat van seksuele aanranding van 'n 18-jarige hoërskoolleerder aangekla word, het Donderdag 5 Maart in die Oudtshoorn-streekhof begin met die getuienis van die klaagster en die dokter wat haar behandel het.
MJ Schoeman het glo op 27 Augustus 2022 die klaagster in die Prins Albert-hospitaal seksueel geskend deur haar privaat dele te betas.
Hy pleit onskuldig.
Die klaagster het getuig dat sy die betrokke dag saam met haar kêrel by die Bush Pub in Prins Albert gekuier het. Na 'n paar drankies het sy sleg begin voel en na 'n badkamer gegaan. Sy was naar en volgens haar het dit gebeur omdat sy op antidepressante was, en dit saam met die alkohol haar olikheid veroorsaak het.
Sy is later in die plaaslike hospitaal opgeneem, maar kan nie onthou hoe sy daar gekom het nie.
Haar suster het haar die volgende dag vertel van 'n video wat glo op die beskuldigde se selfoon is wat toon hoedat hy met haar "speel" terwyl sy aan die slaap was. Sy het nie self na die video gekyk nie, het sy getuig.
Dr. Jacobus Lerm van die Prins Albert-hospitaal, het getuig dat gebruik van medikasie en alkohol mense vinniger dronk maak en dat dit van persoon tot persoon verskil.
Op verdere vrae van die verdediging het hy geantwoord dat hy nie 'n sielkundige is nie en net kan spekuleer.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en Nadia Arnolds is die aanklaer.
Schoeman word deur Jacques van Heerden van JVH Prokureurs, Johannesburg, verteenwoordig, en die saak is na die verstryking van hoftyd vir verdere getuienis tot 2 Junie uitgestel. Schoeman is uit op waarskuwing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’