OUDTSHOORN NUUS - Die 22-jarige Navin Loff is in die Oudtshoorn-streekhof tot 20 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis nadat hy aan menseroof, verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer van ’n 18-jarige vrou saam met wie hy grootgeword het, skuldig bevind is.
Loff het die aand van 29 Junie 2024 die vrou vanaf ’n kuierplek in Zebraweg, Bridgton, tot by ’n nabygeleë kerk gesleep, waar hy haar oor ’n muur gegooi en twee keer verkrag het. Hy het haar ook in die maag geskop en geklap.
Sy regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof versoek om af te wyk van die minimum vonnis van lewenslank vir die dubbele verkragting, en ook in ag te neem dat hy nog jonk is, en reeds ’n geruime tyd in aanhouding is.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter hierteen beswaar gemaak omdat Loff geen berou toon nie en ook nie ’n eerste oortreder is nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnnisoplegging gesê die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur en nie ligtelik afwyk van voorgeskrewe vonnisse nie.
Die hof het in ag geneem dat hy nog jonk is en lewenslange gevangenisstraf skokkend sal wees.
Hy is tot vyf jaar vir menseroof, twintig jaar vir verkragting en vyf jaar vir ernstige aanranding gevonnis.
Die vonnisse vir menseroof en aanranding kan gelyklopend met die vonnis vir verkragting uitgedien word, vir ’n effektiewe vonnis van twintig jaar.
Loff is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’