OUDSTHOORN NUUS - Die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Patrick Blaauw, het die week in 'n verklaring 'n beroep op alle inwoners van die Groter Oudtshoorn gedoen om alle COVID-19-regulasies te eerbiedig.
Volgens Blaauw merk hulle op dat groot getalle jongmense op die strate, by bushaltes en by spazawinkels is sonder dat hulle maskers dra of sosiale afstand handhaaf.
"Dis vir ons onrusbarend om die blatante ongeërgde houding van sommige mense ten opsigte van die vlak-4-regulasies waar te neem.
"Ons versoek almal in die gemeenskap om toe te sien dat julle huisgenote nie onnodig rondbeweeg nie, dat jongmense, indien hulle die huis verlaat, maskers op het en sosiale afstand handhaaf, en nie in groepe op straathoeke kuier nie. Vermy die onwettige samekomste deur die dag en in die middernagtelike ure."
Hy het ook inwoners herinner dat mense nie tussen 21:00 en 04:00 buite hul huise mag wees tensy dit noodgeval is nie.
"Onthou indien julle deur die SAPD gekonfronteer word, sal julle beslis 'n kriminele rekord hê indien julle skuldig bevind word. Ons moedig ook diegene tussen die ouderdom van 50 en 60 aan om te registreer vir die entstof en by die Toekomsrus-gemeenskapsaal aan te meld."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'