OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Courant bied vanjaar vir die derde keer die Best of Oudtshoorn en Klein-Karoo Leserskeuse-toekennings aan, 'n viering van die besighede, dienste en bestemmings wat ons dorp elke dag besonder maak.
Dit sluit nie net besighede in Oudtshoorn in nie, maar ook De Rust, Dysselsdorp, Calitzdorp, Ladismith en Prins Albert.
Hierdie is meer as net 'n kompetisie; dit is 'n geleentheid om erkenning te gee aan plaaslike uitnemendheid, van die skoonheidsalon wat jou laat straal, tot die beste sjef en gunsteling toerismebestemming in die streek.
Nominasies open op 17 April. Die proses is eenvoudig, gratis en oop vir almal.
Of jy 'n besigheidseienaar, lojale kliënt of trotse inwoner is, dit is jou kans om plaaslike uitblinkers te vier. Deur te nomineer en te stem wys jy jou waardering vir plaaslike ondernemings én staan jy 'n kans om opwindende pryse te wen.
Ons wil die publiek graag in kennis stel dat nominasies vir die Best of 2026-toekennings nie oopgestel sal word vir individue of praktyke wat onder die regulering van die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (SRGB) val nie. Hierdie besluit is geneem in ooreenstemming met die SRGB se etiese riglyne, wat gesondheidspraktisyns beperk om aan kompetisies of promosie-inisiatiewe van hierdie aard deel te neem.
Stemkategorieë binne die gesondheidsektor sal daarom beperk wees tot beste gesond-heidsorgsentrum/-kliniek, beste hospitaal en beste apteek.
Nominasies sluit 7 Mei.
Best of Oudtshoorn en Klein-Karoo word met trots deur Oudtshoorn Courant aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’