Sponsored Content
BESIGHEIDSNUUS - ATW Motors vier hierdie maand hul 5de herdenking, en daarmee saam ook hul splinternuwe werkswinkel.
Vyf jaar gelede het Mario Kapp, die eienaar en 'n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige met meer as 15 jaar ervaring by Toyota, die besigheid begin met slegs die basiese toerusting, homself en een persoon wat hom gehelp het. Sy eerste werkswinkel was in Jonesstraat, maar hulle het op 1 Augustus na hul nuwe perseel in St. Savioirstraat geskuif.
Vandag, na jare se harde werk en deursettingsvermoë, het ATW Motors gegroei tot 'n suksesvolle onderneming met 'n span van vyf wat saamwerk om 'n wye reeks dienste te lewer.
Die reis was nie sonder uitdagings nie. Covid-19 was een van die grootste struikelblokke vir Mario en sy onderneming.
"Ek moes buite die boks dink om die besigheid aan die gang te hou," sê hy. Sy kreatiewe denke het vrugte afgewerp en vyf jaar later het hy die kans gehad om na 'n groter perseel te skuif. Hierdie skuif het gelei tot verdere uitbreiding, en ATW Motors doen nou nie net basiese motorherstelwerk nie, maar bied ook ander dienste soos die herstel en installering van elektriese onderdele, onderhoud van voertuiglugverkoelers, die diens van swaarvoertuie en selfs 'n karwas vir kliënte. "Die dienste aan lugverkoelers is 'n mobiele diens wat ons bied. Die kliënt hoef dus nie tot by ons te kom vir dit nie. Ons werk met ons kliënte se voertuie soos ons met ons eie sou werk. Dit gaan oor die kliënt en hoe ons die beste diens vir hulle kan lewer," sê Mario.
"Ons probeer soveel as moontlik dienste onder een dak aanbied, sodat dit gerieflik is vir ons kliënte."
Hy skryf sy sukses aan die Here toe en erken dat net genade van Bo hom gehelp het om sy droom te bereik.
"Dit is net die Here se genade wat ons gedra het tot waar ons vandag is," sê hy met dankbaarheid.
Mario het ook sy lojale kliënte vir hul volgehoue ondersteuning bedank.
Mario sê ATW Motors se span is die sleutel tot hul sukses. Shirley van der Walt beman die ontvangs en reël die dienste, terwyl Densil Prins verantwoordelik is vir algemene herstelwerk en ondersteuning as tegnikus. Denzel Fortuin, wat al vier jaar by ATW Motors werk, is die motorelektrisiën en herstel aansitters en alternators. William Daniels is in beheer van die karwas, wat 'n waardevolle byvoeging tot die diensaanbiedinge is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’