Advertorial Video
OUDTSHOORN SAKENUUS EN VIDEO - Die bekende oogkundige praktyk op Oudtshoorn, Slabber en Slabbert, het onlangs 'n nuwe toevoeging tot hul dinamiese span ryker geword.
Liandi Robinson (31), oorspronklik van Uitenhage, het begin April amptelik by dié praktyk begin nadat sy vir sewe jaar by SpecSavers (ook op Oudtshoorn) werksaam was.
Sy vertel dat haar belangstelling vir optometrie vir die eerste keer in gr. 10 geprikkel is toe sy in die biologieklas van die fisiologiese samestelling van die menslike oog begin leer het. Haar jare lange vriendin, wat 'n paar jaar ouer as sy is, het ook toevallig reeds in die beroepsrigting gewerk, en net daar en dan het sy besluit om vir 'n oogkundige te studeer.
Liandi het na skool in 2007 by die Universiteit van Vrystaat haar tersiêre studies voortgesit en in 2010 haar graad (B.Optom) verwerf. In dieselfde jaar het sy 'n oogkundige pos by SpecSavers op Knysna gekry. Sy het egter in 2011 besluit om by dié firma se tak op Oudtshoorn te werk totdat Slabber en Slabbert haar vanjaar 'n werksaanbod gemaak het.
"Ek moes hard dink en het al my opsies oorweeg, maar op die einde besluit dat dit tyd vir 'n verandering in my loopbaan is. 'n Mens kan maklik in 'n gemaksone verval en dis iets wat ek wou verhoed. Die personeel by Slabber en Slabbert het my dadelik tuis laat voel en tot dusver geniet ek elke oomblik.
Die bekwame span.
Volgens Marita Bouwer, oogkundige by Slabber en Slabbert, het een van die senior oogkundiges, Chris Slabber afgetree en wou hulle graag 'n oogkundige aanstel wat permanent op Oudtshoorn woon.
Oor Liandi se ervaring die afgelope aantal jare in Oudtshoorn, het sy gesê dat die inwoners haar met ope arms verwelkom het en nooit soos 'n inkommer op die dorp laat voel het nie.
"My man, Ernist Robinson, het ook sy eie gevestigde argitekfirma op Oudtshoorn en ons beplan om ons tweejarige seun, Zach op dié lieflike dorp groot te maak," het Liandi gesê.
Kyk video's hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'