BESIGHEIDSNUUS - Dr. Jakes Maritz tree vanaf 1 Februarie in vennootskap met dr. Wessel Vermeulen en sal praktiseer vanuit Suite 6, Mediclinic Klein Karoo, Kerkstraat 185, Oudtshoorn.
Maritz het matrikuleer aan die Hoërskool Jeugland, Kemptonpark, waarna hy sy mediese studies in 2001 aan Tukkies voltooi het.
Hy het toe in verskeie oorsese lande gewerk en was sedert 2012-2021 in privaat praktyk in Oudtshoorn waarna die gesin na Nieu Zeeland verhuis het.
Die familie het einde 2022 te veel verlang en Maritz en sy vrou, Karien Visser-Maritz, een van Oudtshoorn se knap fisioterapeute, het hulle praktyke vanuit Montagu Huis, Olivierstraat 2, bedryf . Hulle beplan om die praktyke daar steeds oop te hou.
Karien het ook 'n meestersgraad (MSc OMT )in fisioterapie.
Die Maritz-egpaar het twee pragtige kinders, Nicolaas en Klara-Mari, beide leerlinge aan Laerskool Wesbank en het weer in hulle huis in Oewersig ingetrek.
Vermeulen, wat voorheen vir een jaar saam met Jakes gewerk het, sê dit is vir hom 'n eer en voorreg om hom as vennoot terug te verwelkom.
Hy sê dat na sy bykans 10 jaar in enkelpraktyk by die Mediclinic, die aanstelling van 'n jonger vennoot nodig is ten einde stabiliteit, gemoedsrus en sekerheid aan sy personeel en pasiënte te verskaf.
Hy beklemtoon dat dit vanself spreek dat hy nie sommer enige dokter sal aanstel as hy nie dieselfde visie, missie, werksywer en roepingsbewustheid het om aan die praktyk se strewe tot uitnemende diens aan die gemeenskap en sy jare lange lojale pasiënte te lewer nie.
Hy is oortuig dat dr. Maritz se persoonlikheid, ondervinding, karakter en integriteit enorme waarde tot sy pasiënte sal toevoeg.
Drs. Johan Lotter en René Smith sal steeds op deeltydse basis by die praktyk betrokke bly. Heel toevallig is al vier dokters oud-Tukkies, maar volgens Vermeulen ongelukkig nie almal Blou Bulle nie!
Volgens Maritz spesialiseer hy in reisgeneeskunde en is hy tans die enigste gelisensieerde geelkoors-vaksineerder in Oudtshoorn.
Maritz se filosofie is om alle pasiënte soveel moontlik op hulle gemak te laat voel deur tyd met hulle te spandeer en is hy gevolglik baie opgewonde om die gemeenskap by sy spreekkamer te ontvang.
Hy het Vermeulen bedank vir die wonderlike geleentheid om deel van die praktyk te wees en is oortuig dat die vennootskap in oorgawe sal groei.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'