OUDTSHOORN SAKE NUUS - Daar is 'n goeie rede waarom mense selfs van Kaapstad af ry om dokter Wessel Vermeulen te kom sien, dit is nie net sy uitstekende diagnoses nie, maar ook sy menslikheid en liefde vir mense.
Dit was die boodskap van oud-ambassadeur en akademikus dr. Franklin Sonn wat Dinsdagaand as gasspreker by die opening van dr. Vermeulen se nuwe praktyk by die MediClinic Klein-Karoo opgetree het.
Dr. Sonn, wat self 'n pasiënt van dr. Vermeulen is het op ligte trant vertel hoe die arts hom jare gelede in Bloemfontein sommer so terloops gevra het hoe dit met sy gesondheid gaan omdat hy kon sien dat iets skort. "Ek het eers gedink hy is 'n goeie bemarker, maar toe moes ek erken dat ek daardie dag nie lekker gevoel het nie en Wessel het dit dadelik raakgesien."
Die area van die MediClinic waar dokters gehuisves word en waar dr. Vermeulen se nuwe spreekkamer ingerig is was Dinsdagaand volgepak met mense wat die opening van die nuwe praktyk bygewoon het.
Dr. Wessel Vermeulen, wat al byna drie dekades in Oudtshoorn praktiseer het glimlaggend gesê dat mense seker dink hy is laf om op sestig met 'n nuwe praktyk te begin, maar het dadelik na sy personeel verwys en gesê dat hy dit nooit sonder hulle sou kon of wou doen nie. Hy het by dr. Sonn se stelling aangesluit dat Oudtshoorn oor uitstekende mediese fasiliteite en kundigheid beskik.
"Oudtshoorn is 'n klein dorpie en ek weet van drie nuwe dokters en 'n fisioterapeut wat hulle binnekort hier by bestaande praktyke kom vestig, dit is vir my 'n teken dat mense 'n vertroue in die dorp het."
Hy het ook beklemtoon dat die hulp en ondersteuning wat hy van sy vrou Marlene ontvang 'n groot deel van sy sukses uitmaak. Tydens Dinsdagaand se geselligheid het dit duidelik geblyk dat dr. Wessel Vermeulen nie net nog 'n algemene praktisyn is nie en dat sy pasiënte die grootste vertroue in hom stel.
Dit is deur dr. Sonn beaam wat gesê het dat hy en sy vrou Joan bevoorreg is om dr. Vermeulen as hulle dokter te hê. Dr. Sonn het, met ver-wysing na die uitstekende mediese fasiliteite in Oudtshoorn en George ook daarop gewys dat die Eden-distrik tans gebruik word as model vir mediese sorg landwyd.
Die nuwe praktyk van dr. Wessel Vermeulen is by die MediClinic Klein-Karoo en kan by 044 279 1090 en 044 279 1046 geskakel word.
Dr. Wessel Vermeulen en sy personeel by `n skildery deur Marlene Vermeulen. Van links is: Ria Venter, Vera Potgieter, Rentia van Greunen, dr Wessel Vermeulen, Yolanda Bellingan, Melinda Bel-lingan & Serelda Hildebrand.
Oud-ambassadeur en akademikus, dr. Franklin Sonn en sy vrou Joan met blyke van waardering vir hulle vriendskap en ondersteuning aan dr. Vermeuelen.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'