Sponsored Content
SAKENUUS - UmuSA, 'n nie-winsgewende organisasie wat fokus op die bemagtiging van die gemeenskap, het 2024 afgesluit met 'n goed georganiseerde en veilige nuwejaar geleentheid by die Bongolethu-sportgronde.
Volgens Quedene Prins, uitvoerende direkteur en stigter van die UmuSA-organisasie, het hulle gevoel daar is nie geriewe in die dorp vir die gemeenskap om op 'n veilige manier die nuwe jaar te vier nie.
"Die enigste plek is die 'Piff' in Bridgton, maar dit gaan gewoonlik gepaard met motors wat 'gespin' word en rommel wat die volgende dag orals rondlê. Voorvalle van roof is ook algemeen. Ons het dit reggekry om almal in een sentrale plek bymekaar te kry met musiek en beheer oor die verrigtinge. Daar kon jongmense hulle geniet op 'n veilige en respekvolle manier."
Prins noem dat hulle in gesprek was met Breyton Bredakamp van Club Fantasy, wat toe aangebied het om die geleentheid saam met UmuSA aan te bied.
Volgens Prins het hulle nege diskjokkies gehad wat musiek gemaak het waarvan sewe van buite Oudtshoorn was en twee van Oudtshoorn.
DJ Chello. Foto: verskaf
"Ons het ook die geleentheid gebruik om vir mense binne ons gemeenskap werk te skep en het 30 persone die aand diens gedoen. Geen onsmaaklike insidente het plaasgevind nie aangesien die sekuriteit skerp was en die polisie se teenwoordigheid baie sterk was."
Suwayna Avontuur en Dalene Pretorius saam met die sekuriteitspan van die aand. Foto: verskaf
Dankie!
UmuSA bedank die volgende rolspelers vir hul betrokkenheid en deelname aan die suksesvolle projek:
- Lt.kol. Wayne Venter van die Oudtshoorn-polisie,
- Ralph Witbooi van die Oudtshoorn-munisipaliteit,
- Zaine Coerecuis en Loryn Machella wat die sekuriteit behartig het en
- die Oudtshoorn-munisipaliteit vir die gebruik van die sportgronde, asook die gemeenskap van Oudtshoorn wat deel was van die inisiatief.
"Ek wil my hartlike dank uitspreek teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit wat altyd bereid is om UmuSA te ondersteun wanneer dit kom by die opheffing van die gemeenskap. Ek wil ook dankie sê aan dr. Steve Harris vir sy skenking aan UmuSA wat ons in staat gestel het om die geleentheid aan te bied."
Inwoners het die geleentheid geniet. Foto: verskaf
Quelen Prins En Tiara Lee Governder. Foto: verskaf
Wie is UmuSA?
UmuSA is 'n oragnisasie wat 'n positiewe impak op die samelewing probeer maak deur sosiale kwessies aan te spreek en individue te bemagtig om hul potensiaal te bereik deur verskeie inisiatiewe en samewerking.
Die organisasie poog om 'n volhoubare en inklusiewe toekoms vir almal te skep. Die organisasie is gestig deur Prins.
Prins noem ten slotte dat 2024 'n goeie jaar vir UmuSA was.
"Ons was in staat om suksesvolle funksies en programme aan te beid wat ons in staat gestel het om skenkings te maak aan verskillende organisasies in Oudtshoorn. In 'n gesprek met die voormalige burgermeester, Chris Mcpherson, het hy UmuSA aangemoedig om meer programme na Oudtshoorn se gemeenskap te bring. Ons as UmuSA werk graag met verskillende organisasies in Oudtshoorn en omliggende gebiede om 'n groter impak te maak in ons gemeenskap. Ons kan net God dank vir alles wat UmuSA sover bereik het."
Daar is rustig saam gekuier. Foto: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’