Sponsored Content
SAKENUUS - Om te trou is ’n groot stap in enige persoon se lewe en soms vergeet die gelukkige paartjie om aan die wetlike aspekte en gevolge van ’n troue te dink en wat gebeur na die groot JA!
Wanneer paartjies in Suid-Afrika trou, moet hulle besluit watter huweliksgoederebedeling van toepassing gaan wees op hul huwelik.
Die huweliks goederebedeling bepaal hoe bates en laste bestuur word tydens die huwelik, by egskeiding en dood.
Daar is drie huweliksgoederebedelings in Suid-Afrika:
- Binne gemeenskap van goedere,
- Buite gemeenskap van goedere sonder die toepassing van die aanwasstelsel, en
- Buite gemeenskap van goedere met toepassing van die aanwasstelsel.
Paartjies moet voor hulle trou besluit watter bedeling die mees gepas is vir hul spesifieke omstandighede.
As geen huweliksvoorwaardekontrak voor die huwelik onderteken word nie, is die huwelik outomaties binne gemeenskap van goedere.
Binne gemeenskap van goedere
Indien paartjies binne gemeenskap van goedere trou beteken dit die partye se bates en laste word, sonder ’n huweliksvoorwaardekontrak, saamgevoeg en ontstaan daar dus een gesament like boedel. Elke gade besit dan 50% van alle bates in die gesamentlike boedel, maar ook 50% van alle skuld.
’n Binne gemeenskap van goedere-huwelik bevorder gelykheid, maar hou ook hoë risiko’s in, omdat die skulde beide se partye raak. Om buite gemeenskap van goedere te trou met of sonder die aanwasstelsel moet ’n paartjie ’n huweliksvoorwaardekontrak aangaan wat voor die huwelik by ’n notaris geteken moet word.
Buite gemeenskap van goedere sonder toepassing van die aanwasstelsel
Sodra ’n paartjie ’n huweliksvoorwaardekontrak gesluit het ontstaan daar geen gesamentlike boedel nie en elke party behou sy of haar eie bates en laste, met ander woorde die partye behou hul eie bates wat hulle voor die huwelik gehad het, en ook wat hulle tydens die huwelik bygekry het. Dieselfde geld vir skuld.
’n Buite gemeenskap van goedere-huwelik bied beskerming van persoonlike bates, maar kan ook soms finansiële ongelykheid skep. Veral wanneer een van die partye tot die huwelik se boedel nie finansieel groei nie as gevolg van opoffering wat vir die huwelik gemaak is.
Hierdie tipe huweliksvoorwaardekontrak is gewoonlik gepas vir persone met groot voorafbates wat hul finansies heeltemal afsonderlik wil hou.
Buite gemeenskap van goedere met toepassing van die aanwasstelsel
Hierdie huweliksgoederebedeling word ook beheer deur ’n huweliksvoorwaardekontrak, welke voor die huwelik onderteken moet word en is soortgelyk aan ‘n buite gemeenskap van goedere-huwelik. Gedurende die huwelik bly elke gade se boedel (bates en laste) steeds apart.
Die verskil is egter dat by egskeiding of dood word die aanwas (groei) van elke party se boedel bereken, en die party met minder groei is geregtig op helfte van die verskil in groei. Met ander woorde, die persoon met minder groei sal geregtig wees op sekere finansiële vergoeding van die persoon met meer groei.
Hierdie huweliksgoederebedeling beskerm die partye se onafhanklikheid, terwyl dit regverdigheid aanmoedig indien een gade finansiële opofferings maak.
Die keuse van ’n huweliksgoederebedeling is ’n belangrike besluit met langtermyngevolge vir beide partye en met bietjie voorafbeplanning kan onnodige konflik in die toekoms vermy word. Paartjies wat op trou staan word aangemoedig om ’n prokureur te adviseer om meer inligting oor die verskillende huweliksgoederebedelings te bekom voordat hulle trou.
Kontak HB Attorneys vir meer inligting op 044 203 5455 / admin@lawhb.co.za / www.lawhb.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’