Dit was die opwindende nuus Dinsdagaand tydens die Besigheidskamer se Netwerkaand, by die Pearl of Oudtshoorn Hotel. Dit was die eerste keer dat die Oudtshoorn Courant hierdie geleentheid aangebied het.
André van Greunen, uittredende voorsitter van die besigheidskamer, het lede-besighede meegedeel dat hulle kandidate moet nomineer om aan die kursus deel te neem. "Dit is `n waardevolle geleentheid vir jong sakelui om toegerus te word met kennis en vaardighede," het Van Greunen vertel. Bestuurstyle, basiese finansiële kennis en bemarkingsvaardighede is, maar enkele van die aspekte wat tydens dié intensiewe vyfdag kursus behandel sal word. Die kursus word aangebied vanaf 15-19 April by die Oudtshoorn-gholfklub.
Nog goeie nuus is dat ABSA `n skenking van R20 000 aan die Centre of Hope bewillig het. `n Sentrum vir straatkinders is hier gevestig in samewerking met Famsa, die Besigheidskamer en Oudtshoorn-munisipaliteit.
Van Greunen het ook `n beroep op plaaslike besighede gedoen om besoekers tydens die KKNK welkom te laat voel. Hy het besighede gemaan om nie hul pryse te verhoog en sodoende munt te probeer slaan uit die groot aantal besoekers nie, aangesien dit hulle sal verhinder om terug te keer.
Dr. Johan Strassheim, nuwe voorsitter van die Aeroklub, het ook vertel van die opwin-dende Presidentstrofeë wat van 23 tot 25 Mei op die dorp aangebied sal word. Strassheim het hierdie lugresies as `n "hoëprofiel gebeurtenis" beskryf.
Oor die 100 vliegtuie sal deelneem en ongeveer 300 besoekers word vir die byeenkoms verwag.
André van Greunen (Pennypinchers), Piet Lödder (Agri Klein Karoo), Jurgens Meyer (Nedbank Beperk Besigheidsbestuur) en Jacobus Maloney (Acker & Maloney Ingelyf).