LANDBOU NUUS - Verskeie nuwe SA rekordpryse is behaal tydens die nasionale merino-ramveiling wat op Vrydag 13 Augustus in Graaff-Reinet aangebied is.
Jacques Pienaar van Mega Merino's in Colesberg se ram Mega Beast is teen R300 000 verkoop aan Lesotho Wool & Mohair Promotions Project (LWMPP) se Mpho Sekonyela. Dit verbeter die vorige rekord met R45 000.
LWMPP het 12 ramme gekoop teen 'n gemiddelde prys van R86 833. Mega Merino's se vyf ramme is teen gemiddeld R115 000 van die hand gesit.
Andries en Jan Pienaar se Trumps Merinostoet in Hanover het die tweede hoogste prys behaal vir hul Trumps Startrek, wat vir R150 000 aan die telers van Smaldeel Merino's verkoop is. Dit is 'n nuwe SA rekord vir 'n poenskopram. Trumps se ses ramme is teen gemiddeld R91 667 verkoop, waarvan drie teen R100 000 en meer.
Jaco Wessels van Edenville het Mega Magnificent vir R140 000 aangeskaf.
Die 58 ramme van 10 stoettelers het die uitstekende gemiddelde prys van R53 379 behaal, wat verlede jaar se SA rekord van R42 085 met bykans 27% verbeter. Tien ramme is vir meer R100 000 of meer verkoop.
Verskeie ander telers het besonder goeie pryse behaal. Die Montevideo-stoet van Andrew Jordaan & Seuns in Cradock het vyf ramme teen 'n gemiddeld van R70 400 verkoop en 'n hoogste prys van R120 000 behaal.
Buffelspoort Merino's van Tinus du Plessis in Middelburg het twee ramme teen R100 000 elk verkoop en 'n gemiddeld van R65 286 vir sewe ramme gekry.
Groep 3 Merino's se Theo en Jaco Potgieter van Graaff-Reinet se hoogste prys vir 'n ram was R120 000, gekoop deur LWMPP. Wellwood Merinostoet van Richard Rubidge in Graaff-Reinet se hoogste prys vir 'n ram was R110 000 en is verkoop aan Koos van Niekerk van Amersfoort.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'