Gallery Video
KLEIN KAROO NUUS EN VIDEO'S - Boere in die Calitzdorp-streek is besig met krisisbeheer na ‘n swerm sprinkane gisteraand en vanoggend in die Calitzdorp-streek geland het. Dit blyk ook dat die sprinkaanswerms moontlik na Oudtshoorn op pad is.
Volgens ‘n boer in Gamka-Wes is die Gamka-vallei groter as 2 000ha en is die sprinkane reeds in die velde en landerye in die hele streek.
“Die sprinkane was eers in Seweweekspoort en het toe deur Zoar na ons toe gekom. Hulle is reeds besig om in die sorghum-, lusern- en spanspeklanderye te vreet. Ons kan hulle egter nie in die dag spuit nie, want hulle vlieg weg. Ons moet kyk om hulle vanaand te spuit.”
FOTOGALERY: Sprinkaanplaag op Calitzdorp
Volgens Loubsher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se Algemene Sakekamer, sê die boere is besig om spuitspanne bymekaar te kry om die swerms te beveg.
“Dit lyk of hulle deur die wind versprei. Dit is ‘n reusekommer vir alle boere, en ook in Oudtshoorn, oor die massiewe saadproduksie wat hier plaasvind. Dit is ook nie iets wat ons al mee te doen gehad het in ons streek nie,” het hy gesê.
Volgens hom is die kostes van die spuitspanne geweldig hoog en gaan hulle moontlik skenkings nodig hê.
Hulle is nog nie seker hoe groot die swerms is nie.
“Sprinkane is ook nie kieskeurig nie en teiken nie net plase nie. Hulle sit waar hulle kos kry en kan dus in die mense se tuine ook inbeweeg.”
Volgens ‘n inwoner van Prins Albert, Barry Lamprecht, is daar ook twee swerms gisteraand deur Prins Albert.
“Hulle het nie hier geland nie, maar dit was definitief ‘n verskynsel om te beleef. Dit is soos ‘n groot stofwolk wat oor die dorp waai.”
Volgens Lamprecht is die swerms deur na Klaarstroom en moontlik Meiringspoort se kant toe.
Indien die sprinkaanplaag in jou omgewing geland het, deel asseblief julle video’s en foto’s met ons. Stuur die na Liezl van Niekerk by 084 825 0432.
Aurelia Mle, munisipale woordvoerder, het ook vanmiddag 'n waarskuwing uitgereik waarin motoriste gewaarsku word.
"Rampbestuur wil onder almal se aandag bring dat daar op die oomblik ‘n swerm sprinkane in die omgewing van Calitzdorp opgemerk is en moontlik Oudtshoorn kan bereik. Motoriste word gemaan om asseblief op hul hoede te wees vir hierdie swerms sprinkane en versigtig en veilig te bestuur."
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.
VERSKAFDE VIDEO'S:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'