OUDTSHOORN NUUS - Hennie-Edna Janse van Rensburg is hierdie week eenparig deur die bestuur van Kangovalleie-landbouvereniging as nuwe voorsitter aangewys.
"Dit is hoog tyd dat vrouens op hierdie manier ook hul regmatige plek in landboubestuurstrukture inneem," sê Chris Botha, uittredende voorsitter.
"Hennie-Edna is jare reeds betrokke by ons, die laaste paar jaar as bestuurslid, en ek kan aan niemand beter dink om die leisels by my oor te neem nie," sê hy.
Die vereniging, wat tot onlangs as die Kangovalleie-boerevereniging bekend was, strek vanaf Buffelsdrift tot by Lategansvlei. Volgens Janse van Rensburg het die vereniging die afgelope vier jaar tot meer as 40 aktiewe lede gegroei. Die Kango Agri Expo wat reeds twee jaar na mekaar aangebied is, is een van die projekte wat deur dié landbouvereniging van stapel gestuur is.
Winste uit die jongste ekspo word aan twee skole en twee tehuise vir bejaardes geskenk.
Kango-landbouvereniging beplan 'n dans en 'n gholfdag asook 'n besoek vir lede aan Kaap-Nampo.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'