OUDTSHOORN NUUS - Die erns van bek-en-klouseer is Dinsdagaand tydens die Volmoed-boerevereniging se vergadering bespreek. Met 'n bevestigde geval van bek-en-klouseer in die Mosselbaai-omgewing is boere deur Agri Wes-Kaap (AWK) gemaan om bepalings wat op die aankoop en vervoer van diere en die toelaat van besoekers op plase ernstig op te neem.
Rojeanne de Wet van Agri Wes-Kaap het gesê daar is tot dusver een moontlike geval van bek-en-klouseer naby Mosselbaai wat ondersoek word. Hierdie geval is intussen Woensdagaand, 11 Februarie, bevestig. Die uitbraak is op 'n plaas buite Hartenbos opgespoor, wat kommer onder veeboere regoor die streek veroorsaak het.
Daar is ook 'n bevestigde geval van bek-en-klouseer in Mbekweni tussen Paarl en Wellington. Tydens Dinsdagaand se vergadering is boere ingelig dat die spesifieke plaas naby Mosselbaai onder vol kwarantyn geplaas sal word sodra die geval bevestig word.
Bek-en-klouseer is 'n aanmeldbare siekte wat eienaars volgens wet verplig om dit aan te meld sou hulle vermoed dat hulle diere die siekte het.
Boere is tydens die vergadering gemaan om streng biosekuriteits-maatreëls op plase toe te pas, onnodige toegang tot plase te beperk en seker te maak dat diere wat aangekoop word gesertifiseer is as vry van bek-en-klouseer.
Die polisie het boere ook daarop gewys dat padblokkades gereeld gehou word en dat alle voertuie wat diere vervoer voorgekeer sal word en dat die nodige dokumentasie wat die vervoer van die diere toelaat getoon moet word.
Aangesien bek-en-klouseer enige dier met gesplete hoewe kan infekteer, beteken dit dat onder meer wild ook die siekte kan opdoen en versprei. Volgens De Wet is daar tot op datum nog geen voorvalle van bek-en-klouseer wat by wildsplase en -reservate in die Wes-Kaap aangemeld is nie.
Entstof
Volgens De Wet is daar nie genoeg entstof nie en is die nasionale departement van landbou besig met die verkryging en vervaardiging van entstof. Sy sê dat AWK in samewerking met Wes-Kaapse departement van landbou en staatsveeartsenydienste 'n werkgroep op die been gebring het waarvan munisipaliteite en verskeie rolspelers deel vorm. Die werkgroep het met die eerste aanmelding van bek-en-klouseer in November 2025 'n omvattende operasionele plan saamgestel en uitgerol.
Toerisme
Op 'n vraag oor die moontlike invloed van bek-en-klouseer op die toerismebedryf het De Wet gesê daar was nog geen negatiewe invloed sover hulle kon verneem nie en dat wildsplase se eie biosekuriteit uiters belangrik is.
Skut
Johan Allers, burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdagaand gesê 'n nuwe skutterrein word tans ingerig vir die aanhou van rondlopervee as voorkomingsmaatreël teen bek-en-klouseer.
'n Navraag is Woensdag aan Allers en aan die munisipale bestuurder gestuur om vas te stel watter veiligheidsmaatreëls by die skut in plek gestel gaan word om te verhoed dat besmette diere geskut en aan eienaars terugbesorg word. Die reaksie op die navraag sal volgende week in beriggewing gegee word indien dit ontvang word.
Lees meer oor die bevestigde geval in Oudtshoorn Courant se susterskoerant Mossel Bay Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’