KLEIN KAROO NUUS - Waterregistrasie van plase is toenemend 'n nagmerrie vir boere wat 'n laat-registrasie wil doen, wysigings op 'n bestaande registrasie wil aanbring of plase wil verkoop, waarvoor 'n op-datum waterregistrasie nodig is.
Volgens Deon Haasbroek, voorheen van die water-afdeling van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat as konsultant boere help met waterregistrasie, is daar ernstige oponthoude wat die proses vertraag.
Dit lei daartoe dat boere wat hul plase wil verkoop nie met die transaksie kan voortgaan nie.
"Die registrasie van water wat aan plase toegeken is en so op die koopakte aangedui is, het in 2000 begin en moes al in 2002 afgehandel gewees het," verduidelik Haasbroek.
"Tot nou toe was sommige boere traag om te registreer, of het aanvaar die oorspronklike inligting soos op die koopkontrak aangedui was korrek, of het intussen besluit om die plaas of te verkoop of op iemand anders se naam oor te dra in die geval van 'n erflating."
Haasbroek, wat sedert 2015 voltyds 'n konsultant is wat boere help om laat-registrasies te doen, of dokumentasie op datum te kry, is hand in die hare omdat die waterregistrasieproses deur verskeie faktore in die wiele gery word.
"Daar is ongeveer 20 boere in die Klein-Karoo wie se registrasie nie afgehandel kan word nie omdat die proses êrens vashaak sodat geen inligting oor die vordering van die proses bekend gemaak word nie.
Van die boere wag al sewe maande vir 'n registrasie waarsonder hulle geen oordragaksies kan doen nie."
Breede-Gourits Catchment Management Agency
Water in die Klein-Karoo ressorteer onder die Breede-Gourits Catchment Management Agency (BGCMA) wat op Worcester gesetel is.
Dit was voorheen die Gourits Catchment Management Agency, maar sluit nou die Breederivier-opvangsgebied in.
Die nasionale departement van waterwese het die Water-administrasie-registrasiebestuurstelsel (WARMS) oorgedra na die GBCMA, wat die registrasieproses moet fasiliteer.
Die GBCMA het 'n kontrak vir die verifikasie en validasieproses (V&V) van die Olifantsrivier-opvangsgebied toegeken aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).
Met die V&V-proses word gepoog om bestaande waterregistrasie te ondersoek ten einde vas te stel of dit korrek en wettig is, met die doel om 'n nasionale register van watereienaars saam te stel.
"Dit is 'n belangrike proses wat bepaal watter waterbronne bestaan, hoeveel water uit die bron onttrek word, wie dit deel en hoeveel water elkeen toeëien."
"Wanneer 'n navraag aan die BGCMA gerig word met betrekking tot die vordering van 'n waterregistrasie, is die terugvoer dat die registrasie moet wag totdat die V&V afgehandel is. Volgens die BGCMA gaan die V&V-proses tot twee jaar duur.
"Intussen kan 'n boer nie sy eiendom verkoop of, in die geval van 'n erflating, oordra aan iemand anders nie. Dit hou veral tydens die erge droogte wat boere noop om te verkoop, ernstige finansiële implikasies in vir die boere.
"Van hulle kan weens die rompslomp hul plase verloor."
ARTIKEL & FOTO: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'