Dit is die boodskap wat Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, aan sowat 80 lede van Agri Klein-Karoo oorgedra het tydens die Agri Wes-Kaap streekkongres wat Dinsdag 5 Maart by die Landbou-navorsingsplaas buite Oudtshoorn gehou is.
Landboubedrywighede wat baie arbeidsintensief is, maak van seisoenwerkers gebruik. "Seisoenwerkers is 'n produksiefaktor wat ons voortaan nie meer kan akkommodeer as dit nie volhoubaar is nie.
"Ons kan nie bekostig om onproduktiewe werkers te hê nie. Dit gaan nie daaroor of ons nie mense wil help nie, maar landbou het ook rekenings om te betaal!
"Die staking het iets goed te weeg gebring: dit het landbouers geleer om aanpassings te maak. Vroeër kon ons werkers oorsien wat nie hul kant bring nie – ons kan nie meer nie – en meganisasie is nou 'n werklikheid."
Hy meen die druk op landbouers gaan net toeneem met betrekking tot voedselsekerheid. "Een suksesvolle boerdery voorsien kos aan tot 1 500 mense. In Suid-Afrika woon 62% van die bevolking in stede. Teen 2050 gaan daar 9 miljard mense op die planeet wees – en hulle moet kos kry."
Landbou is ook 'n grootskaalse werkskepper veral aan ongeskoolde arbeid.
Dit het ook nodig geword om na alternatiewe markte te soek.
Swart meen landbou is beslis nie maanskyn en rose nie, maar landbouers moet mekaar positief hou. "Landbou gaan weer op sy voete land. Ons moet 'n aktiewe poging aanwend om landbou te omskep in 'n omgewing waar almal saamwerk aan vooruitgang. Ons moet bly hoop in landbou en verseker ons suksesse word bekend gemaak.
Die minimum loon, faktore wat daartoe bygedra het en die gevolge daarvan is toegelig deur Carl Opperman, uitvoerende bestuurder van Agri Wes-Kaap landbouers toegelig oor die hantering van loonkwessie, terwyl Porchia Adams, korporatiewe kommunikasiebestuurder die hantering vloei van inligting tydens die loonstakings toegelig het.
Die kongres word jaarliks gehou waartydens terugvoer gegee word oor landbou-aangeleenthede soos die dieselrabat, skade-veroorsakende diere en skaliegas-ontginning. Ander besprekingspunte tydens vanjaar se streekkongres was grondwaardasies en –belasting, bona-fide landbouers, Eskom-tariewe en wetgewing ten opsigte van indringerplante.
Brig. Aneeqah Jordaan, bevelvoerder van die Oudsthoorn Cluster, het die nuwe kitsvingerafdrukmasjien Max ID bekendgestel en borge Nedbank en Sanlam het aanbiedings oor hul produkte gedoen.

Bestuurslede van Agri Wes-Kaap van links: Neil Joubert, Carl Opperman, Agri Klein-Karoo se streekverteenwoordiger Johan Keller, Cornie Swart, Piet Lodder, hoof uitvoerende beampte van Agri Eden, met Porchia Adams voor. Foto: Tisha Steyn