Tydens `n ontbyt saam met dr Ivan Meyer, het Weeber Truter, voorsitter van die fees, vertel dat die fokus van vanjaar se fees op landbou-opleiding en -opheffing geval het.
Truter het aan die boere vertel dat die Herold-landbougemeenskap, asook die omliggende distrik van Oudtshoorn tot Uniondale, uniek is omdat soveel verskillende landbou-aktiwiteite daar bedryf word.
"Ons het vanjaar grootliks weggedoen met die klerestalletjies en musiekverhoë en ons fokus is nou op die oordrag van kennis," het Truter verduidelik.
Die fees is gekenmerk deur talle opleidings- en inligtingskursusse en sowat 80 opkomende boere is ook die geleentheid gebied om hul
diere saam met die van gevestigde kommersiële boere uit te stal.
Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van finansies, het op sy beurt die belangrikheid van landbou beklemtoon vir die Wes-Kaapse ekonomie.
"Ons harte vir landbou is oop," het Meyer gesê en vertel van verskeie inisiatiewe om buitelandse beleggings in die Wes-Kaap aan te moedig. So sal 82 lande `n landbou-investeringsbe-raad in 2016 in Suid-Afrika bywoon.
Meyer, wie se taak ook die onderhou en uitbou van internasionale betrekkinge behels, het gesê dat tans hard gewerk word om buitelandse markte te ontgin, onder meer vir die uitvoer van wyn na Oos-Afrika. Meyer het ook gesê dat landbousubsidies weer ondersoek moet word indien daar met Europese markte meegeding wil word.
Dr Ivan Meyer spreek boere toe tydens ontbyt by die Agri Herold-landboufees.
Saterdag se Bonsmara-veiling het goeie ondersteuning geniet.
Die weer het Saterdag opgeklaar vir die veiling by die Herold-veilingskraal.
Piet Lödder, Willie Marais, Wessie van der Westhuizen, Weeber Truter, Robyn Rütters, dr Ivan Meyer en Tiennie Halgryn na afloop van `n ontbyt met die minister, verlede Vrydagoggend by die Agri Herold-landboufees.
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Suid-kaap nuus'