Hennie Davel van Oudtshoorn Dierewelsyn vertel dat een van die organisasie se inspekteurs Magda Davel, hom vanaf die Kansa-veilingskrale geskakel het om hom in te lig dat daar nie water in die krane is vir die groot aantal vee wat opgeveil moet word nie.
"Ek het die Klein Karoo Landelike Water Voorsieningskema gekontak om te hoor hoekom daar nie water is nie. Dit is aan my oorgedra dat daar nie genoeg water vir die gebruik van die pyplyn is nie en dat hul reeds besig is om meer water in die lyn te plaas, " vertel Davel.
Hy is meegedeel dat water later die aand daardie punt van die pyplyn sou bereik, maar dit sou nie die nood van die vee kon verlig nie. Intussen het boere met waterkanne water aangery, maar hulle kon glad nie voorbly met die aanvraag van die dors en rustelose beeste nie.
Uit radeloosheid het Davel vir Mornay Thysse van die Oudtshoorn-brandweer gekontak.
"Mornay het dadelik die nood raakgesien en 'n brandweertenk gestuur wat onmiddellik verligting gebring het. Ek bedank graag die ODW-personeel en die brandweermanne vir hul vriendelike en vinnige diens," het Davel Woensdag gesê.
Danksy die vinnige ingryping van lede van Oudtshoorn Dierewelsyn en die brandweer het beeste wat by 'n veilig op kraal was water gekry. Van links is: Mornay Thysse, Nicklaas Fortuin en Hyran Albert van die brandweer met Yolande Piedt en Magda Davel van ODW langs hulle. Foto: Hennie Davel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'