Dit was Maandag die breë boodskap van Ernst Janovsky, hoof van ABSA se landbousentrum van uitnemendheid, toe hy ongeveer 30 boere van die groter Oudtshoorn omgewing by die Black Swan restaurant toegespreek het.
Hy het daarop gewys dat landbou 'n langtermyn belegging is, maar dat tegnologie en wêreldtendense baie vinnig ontwikkel en plaasvind. "As jy as boer nie tred hou met die tegnologie nie en as jou werkers nie opgelei word om tegnologie te gebruik nie, gaan jy agterraak," was sy waarskuwing.
Volgens Janovsky is energie die grootste uitgawe van landbou in Suid-Afrika. "Dit is nodig dat boere moet kyk hoe hulle energie en energiebronne gebruik en waar hulle moet aanpas."
As voorbeeld van die geweldige hoë koste van vervoer in Suid-Afrika het hy gesê dat dit tussen 8 tot 12 dollar kos om 'n ton graan vanaf 'n plaas in die VSA tot by die hawe in Durban te bring, maar dat dit tussen 18 en 22 dollar kos om dieselfde ton vanaf Durban na Johannesburg te vervoer.
Wat grond hervorming aanbetref het Janovsky boere dringend versoek om nie te wag totdat dit op hulle afgedwing word nie, maar om eerder pro-aktief op te tree en die proses te bestuur.
"Onthou, grondhervorming kan net deur die titelhouer gedoen word, en julle is die titelhouers van julle grond. Julle moet anders kyk na grondhervor-ming en bestuursplanne in plek kry om grondhervorming te bestuur."
Hy het boere aangeraai om te gaan kyk na plase waar grondhervorming suksesvol toegepas is en die nuwe boere wat bemagtig is met groot sukses boer. "Dit is die tipe mense met wie jy grondhervorming moet doen, want hulle laat dit werk."
Hy het ook verwys na die geweldige bevolkingsgroei wêreldwyd en die toenemende vraag na voedsel wat vir die landbou groot uitdagings stel.
Ter afsluiting het het hy gesê hy is daarvan oortuig dat die vooruitsigte vir landbou positief is en dat daar steeds goeie geld uit landbou verdien kan word.
Ongeveer 30 plaaslike boere het die praatjie van Janovsky bygewoon.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'