OUDTSHOORN NUUS - “Die KKNK, geborg deur Absa, oftewel die moederfees van Afrikaanse feeste, vier van 28 Maart tot 4 April ’n voluit 30ste mylpaaljaar in Oudtshoorn,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Volgens Theart word daar met die KKNK se geskiedenis natuurlik teruggekyk na waar alles begin het en hoe die fees oor die jare ontwikkel het.
“Dié viering kyk egter ook voluit vorentoe. Feesgangers kan vir die 30ste jaar uitsien na ’n fees van talent, beide veterane én opkomend. Die gewilde aspekte van die fees is volgepak, met ’n paar nuwighede en opwindende aanpassings. Op die teaterprogram is daar verskeie debuutproduksies van nuutgeskrewe tekste en vertalings, asook ’n keur van bekroonde en gewilde werke wat die afgelope tyd by ander teaters en feeste te sien was.
“Die Feesmark is ekstra woelig met twee musiekverhoë waar van Suid-Afrika se voorste en gewildste sangers en musikante te sien is. ’n Spesiale Voluit-openingskonsert (28 Maart) met verskeie verrassings en die ou bekende Karoo Pops (29 Maart) en Kaktus (2 April) is terug.
"Verder bied die Feesmark ook kinderteater in die Klein KKNK-teater, kort teaterproduksies met Blitsteater, asook markte en leefstylervarings regdeur die fees. Alles aangebied teen ’n sakpasprys. Bykomend is daar ook gratis vermaak in Baron van Reedestraat by die RSG en ATKV-Kuierkol, verskeie gespreksreekse en visuele kuns.
“Ons nooi almal uit na die spesiale 30ste verjaarsdagpartytjie in die hartjie van die Klein-Karoo. Dit is agt dae van voluit feesvier, met vermaak wat iets vir almal bied. Ons sien baie daarna uit om dié mylpaal saam met jou te vier”, sluit Theart af.
Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse oorlog Atropa: Die wraak van vrede debuteer by die KKNK. Foto: Gys Loubser
Teaterhoogtepunte
Nicola Hanekom keer terug met ’n plekspesifieke drama in Die gebed van ’n halfmens, onder regie van Hanekom met Tobie Cronjé, Annelisa Weiland, Marlo Minnaar, Brendon Daniels, Alyssa van Reenen en Gretha Brazelle. Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse oorlog in Atropa: Die wraak van vrede onder regie van Marthinus Basson met Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Tinarie van Wyk Loots, Carla Smith en Geon Nel debuteer ook by die KKNK.
Saartjie Botha is terug met ’n splinternuwe stuk, ge-gebergtes, met Nic de Jager, Daneel van der Walt, Miché van Wyk en Ntombi Makhutshi. Botha hanteer ook die verwerking van Die ander dogter, ’n nuwe eenvrouvertoning met Sandra Prinsloo. Die teks is geskryf deur Annie Ernaux, vertaal uit Frans deur Naòmi Morgan en onder regie van Lara Foot.
Carla Smith se debuuttoneelstuk, CRYBABY, is ook te sien. Sy het die regie hanteer.
Kanya Viljoen hanteer die regie van die komediedrama Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene met Mienke Ehlers en Dean John Smith. Deep Heat met Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt is ’n plekspesifieke drama en vertaling van ’n teks deur Ashraf Jamal, vertaal en onder regie van Ilana Cilliers.
Die Karoo Kaarte-span keer terug met ’n splinternuwe drama uit dié projek se navorsing vir Spoel, met Theo Witbooi, Chantell Phillipus, Janion Kennedy, Melikhaya Blou en Ira Blanckenberg.
Breyten Breytenbach se eerste en laaste toneelstukke is vir die eerste keer by op die planke. Boklied, met De Klerk Oelofse, David Viviers, Obed de Koker, Ntombi Makhutshi, Wian Taljaard, Keagon Cochrane, Hannah Borthwick, Jurgen McEwan en Ben Albertyn onder regie van Basson en Verwelkingslied met Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar onder regie van Marí Borstlap is in die Klein-Karoo te sien.
Feesgangers het ’n geleentheid om beide dramas teen ’n besparing van 30% te sien met ’n spesiale Breytenbach-kaartjiepakket.
Andrew Buckland is te sien in ’n splinternuwe drama, The Fool’s Guide, asook sy veelberkoonde The Ugly Noo Noo. Die Zip Zap Circus neem die gehoor saam op ’n veelkleurige reis deur die mikrokosmos van Suid-Afrika in MOYA, hulle eerste verskyning in die Klein-Karoo.
Komedies
Daar is hope geleenthede vir skaterlag op die program, met ’n keur van komedies en stand-up-vertonings. Onder die komedies tel Lizz Meiring in die Real Housewife, Wynand van Vollenstee en Thiart Li in Geagte kampeerders, Chris Vorster in Gebou soos Steffi Graf, Marion Holm in Gryp elke grasHOLM, Holm en Dean John Smith in Kry vir jou ’n tux, Thomas, Hannes van Wyk en Desiré Gardner in Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go?, Margit Meyer-Rödenbeck in Ouma en die ou koeie, ’n wêreldklas trefferkomedie Police Cops: The Original, Frank Opperman in Reünie en Mandri Sutherland in Vrou ens. 1.2.
As deel van die stand-up aanbod kan feesgangers uitsien na optredes deur Alfred Adriaan, Alan Committie, Mel die Storieverteller, Hannes Brümmer, Kurt Schoonraad Aletta Francina de Kock, Uncool Tea en Christie van Niekerk.
Dansteater
Vier produksies word aangebied: GAT deur die Garage Dance Ensemble, The Reservation met die Figure of 8 Dance Theatre-geselskap, Twee siele, een omhelsing / Dos almas, un abrazo met Shaun Oelf en Ramsey Lewis en Wings of Light met die Figure of 8 Dance Theatre en Jozi Youth Dance Company.
Nataniël deel die verhoog met Charl du Plessis in SOOIBRAND. Foto: Clinton Lubbe
Musiek
Debuutwerke hier is volop. Nataniël deel die verhoog met Charl du Plessis in SOOIBRAND, Frieda van den Heever, Coenie de Villiers, Mauritz Lotz en Deon Meyer is te sien in Stille vuur, Francois van Coke in Hoe ek dit onthou, Rocco de Villiers se KLAWER, Jak de Priester se 25 jaar van songs, Amanda Strydom en Je-ani Swiegelaar in Tillie/Mathilda, Elzabé Zietsman in Wat om te doen as die wêreld brand, Albert Frost en James Grace deel die verhoog in Twee wêrelde, twee kitare, een verhoog, Anna Davel en Ilse Klink is In Harmonie en Davel is ook te sien saam met The Melisizwe Plaatjie Collective.
Die Charl du Plessis Trio vier 20 jaar, Ommitafel met Steffie le Roux en Mariette Galjaard, Plektrum bring hulde aan tweemalige Grammy-wenner Mauritz Lotz, STOK: Moenie ophou speel nie (1996 - 2026) met Jahn Beukes, Leon Ecroignard en Mauritz Lotz, Strate van my hart met Leslie Javan, Francois Afrika, Kurt Bowers, Eugene Ackerman, Elton (Speed) Cupido en Llewellyn Adonis, Twee oseane met Vernette Wessels, Helenè Bester, Marius Wessels, Charlie Botha en Gavin Young, Voor die gordyn oopgaan met onder andere Brandon October en Woordenaar met Churchil Naudé, Jackie Lätti, Riku Lätti en Jannie van Tonder.
Ander musiekproduksies sluit onder andere in: Loukmaan Adams en Alistair Izobell se Back 2 Back, Die kronieke van Buks met onder andere André Schwartz, Die lewe en die langpad met onder andere Elvis Blue, Die Vyftigers met Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal, Een keer om die son: Die klankbaan met onder andere Almero Welgemoed, Ivan Botha en Donnalee Roberts, Hoort met Stephanie Baartman en Janine Neethling. Lize Beekman is terug by die fees in Tussen hier en daar.
Vir die gesin
Gesinne kan uitsien na Jakob met Bryan Hiles, onder regie van Michael Taylor-Broderick, asook Eldon van der Merwe en Mia van der Merwe in Liewe Heksie word ‘gescam’, met teks en regie deur Margit Meyer-Rödenbeck. Agt ander kinderteaterproduksies vir verskillende ouderdomme word by die Klein KKNK-teater in die Feesmark aangebied.
Kuns
Liza Grobler, die feeskurator van visuele kuns, het ’n program saamgestel onder die tema Grenslose gesprekke, wat regdeur die dorp gesien kan word. nomThunzi Mashalaba is die feeskunstenaar vir 2026 en die visuele kunsaanbod sluit onder andere ook ’n uitstalling getiteld PLEK in, met werke van al die KKNK se feeskunstenaars oor die afgelope drie dekades.
Gratis vermaak
Dit is volop in Baron van Reedestraat in die Netwerk24-feeskafee langs die CP Nel-museum, waar gesprekke en ander spesiale ervarings aangebied word. Boekstories word in die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books aangebied en die kykNET-leefarea voor die Absa-burgersentrum, asook straatoptredes deur die dag bied verder ook gratis vermaak. By die RSG en ATKV-Kuierkol (voor die CP Nel-museum) bied RSG en die ATKV vermaak met regstreekse radio-uitsendings en ander aktiwiteite deur die dag.
KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program vir die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, [email protected] of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’