OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-kunstenaars het verlede naweek, onder leiding van bekroonde musiekregisseur Janine Neethling, met repetisies vir die KKNK se Voluit Openingskonsert afgeskop.
Hierdie konsert word Saterdag 28 Maart om 20:00 in die Feesmark aangebied. Kunstenaars wat op Vrydag 20 en Saterdag 21 Februarie deel van die repetisies was, was onder andere Tino, Noemwoord, Frederico Fortuin, Bianca Hendricks, skoolkore van Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Van Reede, Fezekile Secondary School en Calitzdorp se Kalliklip Vastrappers.
Drie dekades van kunste, kultuur en onvergeetlike oomblikke by die KKNK word met dié konsert gevier. Hierdie opelugkonsert neem die gehoor op ’n nostalgiese reis deur die fees se ryk geskiedenis, maar kyk ook voluit vorentoe.
Neethling, musiekregisseur vir die openingskonsert, sê dit was uit die staanspoor belangrik om twee aspekte met dié konsert te vereer. “Eerstens, Oudtshoorn en die distrik, om dankie te sê vir die KKNK se tuiste die afgelope 30 jaar. Tweedens, om die kunste in verskeie vorms ten toon te stel. Dit is beslis nie net ’n musiekkonsert nie, daar is dans, bewegingsteater, poësie, uittreksels uit toneelstukke én nuutgeskrewe teks deur die bekroonde regisseur Nico Scheepers.
“Ek het die afgelope naweek oor twee dae die voorreg gehad om met vier skoolkore, agtergrondsangers, die Kalliklip Vastrappers, Tino en Noemwoord te werk. Dit was epies! Daar is hard gewerk met geweldige passie en energie, maar daar is ook nuwe bande gesmee en herinneringe geskep.
“Om ’n konsert soos hierdie aan te bied is ’n spansport en dit was werklik ’n fenomenale span mense wat saamgewerk het in die Absa-burgersentrum.”
Neethling wil nie té veel weggee nie, maar sonder ’n paar ongelooflike hoogtepunte uit. “Die lys is lank, maar feesgangers kan onder andere uitsien na: Geel (Julie) en Bittermaan deur Langenhoven Gimnasium se koor, Danie Reënwolf du Toit en Coenie de Villiers; Leka Djy’met die Ad Astra Hoërskool Oudtshoorn-koor, Noemwoord en Early B; Bicycle sonder slot met Van Reede se skoolkoor, Tino en Lynelle Kenned; Ben Ten met Early B en Sandra Prinsloo; Slippers van satyn met Amanda Strydom en Frank Opperman; Thixo Onothando met Fezekile Secondary School se koor en ’n verrassingsakteur, asook Karoonag met al vier skoolkore en Coenie de Villiers.
Tino sê dit was vir hom ’n ongelooflike voorreg en inspirasie om saam met Neethling en soveel talentvolle kunstenaars te werk.
“Die twee dae se repetisies was intens, maar ook baie opbouend. Daar is ’n besondere energie wanneer mense wat regtig passievol is oor hul kuns bymekaarkom en jy voel hoe almal mekaar dra en motiveer.”
Hy sê wat die meeste vir hom uitgestaan het, was die gevoel van eenheid: “Hoe ’n koor, musikante en kunstenaars wat dalk van verskillende agtergronde kom, saam een storie begin vorm. Daar was oomblikke in die repetisies waar jy sommer hoendervleis kry, omdat jy besef jy is deel van iets groter as jouself. Die openingskonsert gaan besonders wees, omdat dit nie net ’n vertoning is nie, maar ’n viering van ons kuns, kultuur en stories. Dis beslis ’n moet-sien omdat dit die toon gaan aangee vir die hele fees en wys hoe ryk en lewendig ons kreatiewe Klein-Karoo-wêreld is.”
Ayakha Ntamnani, koorleier van die Fezekile Secondary School, sê hulle het die afgelope naweek ’n wonderlike ervaring gehad. “Ek was nog nooit vantevore by iets soos hierdie betrokke nie. Janine is ’n wonderlike mens, en sy vang die gees van die konsert vas in die wyse waarop sy met ons koorlede werk. Al die ander kunstenaars is briljant. Feesgangers moet beslis nie die openingskonsert misloop nie, want dit gaan ’n wonderlike en epiese konsert wees, waar verskillende kulture saamkom om die gees van die KKNK vas te vang.”
Janion Kennedy, oftewel Noemwoord, sê hy sien uit na die samesmelting van die kore met die ander musiek op die verhoog.
“Die konsert is ’n mengelmoes tussen genres en beslis ’n moet-sien vir feesgangers, omdat dit ons land én ons erfenis vier.”
Die Voluit Openingskonsert vind op Saterdag 28 Maart vanaf 20:00 op die Feesmark-verhoog plaas.
Toegang is ingesluit by die prys van ’n Feesmark-kaartjie.
Die volledige program vir die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor.
Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, [email protected] of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’