OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Prins Albert-leesfees vind van 29 tot 31 Augustus by The Showroom Theatre plaas.
Vanjaar se program spog nie net met 14 uiteenlopende items nie, maar ook met die bekendstelling van twee nuwe boeke wat vars van die drukpers af is.
Annelie Botes
Die fees begin Vrydagaand, 29 Augustus, met ’n spesiale huldiging aan die geliefde skrywer Annelie Botes. Daar was aanvanklik beplan om met haar man, Chris, beter bekend as Die Gryse, oor haar werk te gesels, maar ’n nuwe gepubliseerde bundel van haar, Laastegoed, sal nou ook tydens die geleentheid bekendgestel word. Penguin Random House het onlangs aangekondig dat dié bundel, bestaande uit rubrieke wat deur Annelie geskryf is en nog nie in boekvorm verskyn het nie, in Augustus uitgereik sal word.
Chris het vertel dat Annelie, tydens haar laaste week in die hospitaal, hom versoek het om haar rubrieke van 2020 tot 2024 te versamel sodat sy self ’n keuse kon maak vir moontlike publikasie. Sy is egter op 12 Desember 2024, net vier dae ná haar ontslag, oorlede voordat sy dit kon doen. Penguin Random House het voortgegaan met die projek, en Laastegoed is nou ’n gepaste huldeblyk aan een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers.
Die huldiging duur Saterdagaand, 30 Augustus, voort met die vertoning van die rolprent Raaiselkind, gebaseer op Annelie Botes se gelyknamige roman. Die film, vervaardig deur Sally Campher, sal spesiaal tydens die leesfees vertoon word.
Sidney Gilroy
Die tweede boek wat sy debuut maak by die fees is Roulette deur die gewilde misdaadskrywer Sidney Gilroy. Hy is geen vreemdeling vir die Prins Albert-leesfees nie, en sy vorige boeke soos Middernag, Klikbek, Vlam en Bloedsomer het lesers aangegryp. Gilroy sal ook as gespreksleier optree in sessies saam met Martin Steyn (Donkerwater) en Erla Diederichs (Bonsaimeisies).
Program
Die program sluit nege skrywersgesprekke en die rolprentvertoning in teen R70 per sessie. ’n Feeskaartjie wat toegang tot al tien betaalgeleenthede bied, kos R500. Die Sondagoggend se poësiesessie en sonsopkomsgesprek is gratis.
’n Sondagmiddagete en gesprek met dr. André Hattingh oor sy boek Cooking with Doc word ook aangebied teen R250 per persoon. Dié geleentheid is nie by die algemene feeskaartjie ingesluit nie.
Die volledige program is beskikbaar op die Prins Albert-leesfees se Facebook-blad.
Kaartjies kan bespreek word by Reinie Smit via e-pos by reiniesmit@gmail.com of per WhatsApp by 073 281 8891.
Kaartjies is ook beskikbaar by die Prins Albert-biblioteek en gedurende die fees by die deure van The Showroom Theatre.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’