VERMAAK NUUS - “Vanjaar se Teksmark bring ’n uitsonderlike groep skrywers byeen – waaronder drie Hertzog-pryswenners – en bied ’n opwindende blik op wat voorlê vir Suid-Afrikaanse teater.”
Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Gehore wat Teksmark in die Baxter Studio by die Baxter-teatersentrum bywoon, kan uitsien na kreatiewe teksidees van Nicola Hanekom (Die gebed van ’n halfmens), Saartjie Botha (ge-gebergtes), Willem Anker (Stormjaers), Tertius Kapp (Vastrap), Veronique Jephtas [K(r)aak], Nico Scheepers (My kinders se honde), Jason Jacobs & Devon Delmar (Kontrapunt), Carla Smith (CRYBABY), Amee Lekas (Beloofde land) en Wilken Calitz (Pierneef en die bok).
Uittreksels word ook aangebied van die twee wenproduksies uit die Baxter-teater se Zabalaza-fees: Lauren Snyders se ’n Pandok se liefde en Lwanda Sindaphi se Purpose.
Teksmark word moontlik gemaak deur NATi, die Baxter-teater, UJ Kuns & Kultuur en die Het Jan Marais Nationale Fonds.
Amee Lekas
Skrywers kry hier die geleentheid om oor hul nuwe teksidee te gesels en daarna ’n kort uittreksel as leesteater aan te bied.
Uittreksels word onder leiding van regisseurs waaronder Marthinus Basson, Dean Balie, Samuel Jumat en Kanya Viljoen aangebied, met verskeie van die skrywers wat self ook gesoute regisseurs is, wat hul eie regie behartig.
Op die verhoog vir die leesteater-uittreksels is Frank Opperman, Chris van Niekerk, Joanie Combrink, Waldemar Schultz, René Cloete, Ira Blanckenberg, Cintaine Schutte, Bianca Flanders, Carel Nel, Daneel van der Walt, Wian Taljaard, Gretha Brazelle, Wilhelm van der Walt, Morné Visser en vele ander te sien.
Bywoning van Teksmark is gratis en alle belangstellendes word genooi om deel te wees van die eerste saadjie wat gesaai word vir die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies en ’n viering van die tiende jaar van die bekroonde projek.
Willem Anker © Jaco Marais
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê: “In ’n wêreld wat toenemend oorheers word deur kunsmatige plaasvervangers en uitgeholde namaaksels, staan die teater en veral Teksmark as ’n baken van unieke stemme en oorspronklike idees, wat voortspruit uit die geleefde ervarings van ons eie skrywers.
"Hierdie projek erken dat ons gedeelde menswees die beste gekoester en gevier word deur die onvervangbare werk van kunstenaars wat waag om ’n spieël voor ons samelewing te hou en ongemaklike waarhede te vertel.
"In ’n tyd wanneer ware menslike verbinding meer kosbaar as ooit voel, herinner hierdie nuwe werke ons waarom teater noodsaaklik bly. Dit is nie ’n luuksheid nie, maar ’n morele kompas en toevlugsoord vir die verbeelding.”
Volgens Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teater, het Teksmark ’n sleutelrol gespeel in die koestering van jong skrywers sedert die projek se ontstaan in 2016, en aan hulle die geleentheid gebied om hulle stories te vertel en hulle stemme in hul moedertaal te deel.
“Stories help ons om te leer, te voel en te genees – as gehore, as gemeenskappe en as die samelewing oor die algemeen. Die Baxter is trots op ons vennootskap met die KKNK en NATi, en wens Teksmark volgehoue sukses toe, soos die projek aanhou om ’n inklusiewe, ondersteunende en koesterende platform vir komende generasies van storievertellers te bou.”
Veronique Jephtas
Vir Teksmark se mylpaal-viering is die projek vanjaar effens anders as in die verlede aangepak. Teksmark het nie vanjaar ’n ope-uitnodiging vir teksvoorstelle gehad nie, maar skrywers is deur vennote van dié projek geïdentifiseer om opdragwerke te skryf of werke wat reeds voorgelê was is gekies.
Sedert die ontstaan van Teksmark is bykans 200 teks-idees deur meer as 170 skrywers vir verdere ontwikkeling voorgelê, waarvan ongeveer 50 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel is. Hierdie produksies het ook reeds hope pryse ontvang.
“Ons sien daarna uit om belangstellendes by die Baxter-teater te verwelkom om die begin van hierdie tekste te ervaar. Ons moedig ook reeds skrywers aan om hulle teks-idees gereed te kry vir Teksmark 2026, wanneer daar weer ’n ope-uitnodiging vir teksvoorstelle as deel van dié projek sal wees”, sluit Theart af.
Meer inligting en die volledige program vir Teksmark 2025 is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Of kontak die KKNK-kantoor via e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’