Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Skrywers en lesers wat verlede Saterdag, 28 Februarie, aan die eerste boekedag by die Neelsie-teater deelgeneem het, is dit eens dat meer sulke geleenthede gereël moet word.
Die dag is deur die Arbeidsgenot-komitee gereël om plaaslike skrywers die geleentheid te gee om hul skryfwerk aan inwoners bekend te stel.
Die program het met 'n silent library begin waar lesers vir 45 minute in die tuin en op die stoep van Arbeidsgenot kon sit en lees. Dit was 'n toetslopie om te kyk of soortgelyke leesure weer aangebied kan word.
Skrywers het voor die aanvang van die skrywerssessie die AJV van die Langenhoven Gedenkfonds (LGF) bygewoon waartydens die direksie hul waardering uitgespreek het vir die werk wat die komitee die afgelope jaar gedoen het om Arbeidsgenot en Die Neelsie te bemark en te benut.
Die LGF is reeds in 1951 gestig om die bewaring en bestuur van Arbeidsgenot te verseker.
Tien skrywers het aan die oggend deelgeneem waartydens elkeen tien minute gegun is om oor hul eie skryfwerk en boeke te gesels. Vir sommige was tien minute te lank, maar vir ander was dit 'n uitdaging om hul interessante stories in so 'n kort tydjie te deel.
Elke skrywer het ook geleentheid gehad om hul boeke uit te stal en 'n hele aantal boeke is verkoop. Izak de Vries, voorsitter van die LGF-direksie, het die oggend bygewoon en die hoop uitgespreek dat meer sulke geleenthede by Die Neelsie aangebied sal word.
Een van die skrywers, Eunice Strydom, het in haar kort voorlegging vir die gehoor gesê die lewe is te kort om nie jou passie uit te leef nie en almal aangemoedig om elke dag te gebruik om voluit te lewe.
Charmaine Beneke en Susan Ongansie wat kinderboeke geskryf het, het gesê dat stories en boeke die basis is vir kinderontwikkeling en mense aangemoedig om kinders en kleinkinders van kleins af aan stories en boeke voor te stel.
Aangesien Arbeidsgenot die huis is waar CJ Langenhoven gewoon en sy skryfwerk gedoen het, is dit die ideale plek om Afrikaans as skryf- en leestaal te bevorder.
Met die belangstelling en deelname wat Saterdag se proeflopie ontlok het, beplan die Arbeidsgenot-komitee om die geleentheid uit te brei en te ontwikkel.
Die Neelsie is beskikbaar vir klein geleenthede en het sitplek vir ongeveer 80 mense.
Vir meer inligting oor die huur en beskikbaarheid van Die Neelsie skakel die KKNK-kantoor by 044 203 8600.
(Met die KKNK wat in aanloop is, word geen besprekings vir die venue vanaf 1 Maart tot einde April geneem nie.)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’