VERMAAK NUUS - ’n Simfonie van snare wag op liefhebbers van klassieke musiek by vanjaar se Klein Karoo Klassique. Die tjello, harp, viool, altviool, kontrabas en vele meer, word van Vrydag 8 tot Sondag 10 Augustus op Oudtshoorn by dié fees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn tentoongestel.
Rosamund Roth (tjello), Liesl Stoltz (fluit) en José Dias (klavier) open die musiekprogram van die 16de Klein Karoo Klassique met Trio du Cap Classique (8 Augustus 10:00).
Hulle speel ’n energieke program, met hoogtepunte wat insluit Mozart se Klaviertrio in B-majeur, K. 502; Goossens se Five Impressions of a Holiday en Farrenc se Trio vir fluit, tjello en klavier in E-mineur, Op. 45. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.
Die Little Maestros-konsertreeks (8 en 9 Augustus 12:30) is terug en leer die jongste gehore meer oor die harp, met Jana van der Walt (harp) en Magdalene Minnaar (viool & aanbieder). Klassieke musiek is ’n sterk ontwikkelingshulpmiddel vir jong kinders, aangesien dit breinontwikkeling ondersteun en konsentrasie bevorder.
Hierdie interaktiewe konserte, bied ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies die musiek van Mozart, Bach en ander geliefde klassieke komponiste kan verken.
Petrus de Beer (viool), Renée van der Westhuizen (viool), Emile de Roubaix (altviool) en Anjulie de Vos-Nock (tjello) deel die verhoog vir Alive String Quartet in Concert (8 Augustus 14:00).
Hierdie strykkwartet verweef klassieke en kontemporêre musiek met boeiende storievertelling en fassinerende gesprekke met die tydlose bekoring van klassieke snaarinstrumente.
Geniet geliefde klassieke werke deur komponiste soos Vivaldi, Haydn, Beethoven en Piazzolla, saam met moderne treffers met ’n klassieke aanslag deur The Beatles, Coldplay en meer. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.
Vir Glass House: A Journey Through Minimalist Masterpieces (9 Augustus 09:30) deel die Alive String Quartet die verhoog met Steinway-kunstenaar Charl du Plessis (klavier) om die elegante skoonheid en ritmiese briljantheid van minimalistiese musiek na vore te bring.
Werke van ikoniese komponiste soos Philip Glass, Steve Reich, Arvo Pärt, Max Richter en Michael Nyman word gespeel, vir ’n reis deur dekades van minimalistiese innovasie. Van die nadenkende kalmte van Pärt se Spiegel im Spiegel tot die polsende energie van Philip Glass se The Hours, bied dié uitvoering ’n luisterervaring ryk aan tekstuur. Stemmingsvolle werke van Max Richter en Michael Nyman word ook uitgevoer.
Die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van Richard Cock, is terug vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert (9 Augustus 19:30). Verskeie strykers deel die verhoog met Nonhlanhla Yende (mezzosopraan) en die Charl du Plessis Trio [Du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme)].
Hulle program sluit die Maanligsonate van Beethoven in ’n splinternuwe verwerking vir orkes, asook opera-arias deur Mozart en musiek van Vivaldi, Bach en Beethoven in.
Roth (tjello) deel in Journey of the Soul (10 Augustus 09:30) die verhoog met Féroll-Jon Davids (klarinet) en Megan-Geoffrey Prins (klavier), vir musiek wat fokus op musikale storievertelling, versterk deur die geheimsinnige elemente van fantasie, vir klarinet, tjello en klavier. Musiek van Schumann, Muczynski en Brahms, kundig vir hierdie kombinasie van instrumente geskep, word uitgevoer, met ’n uiteenlopende reeks style wat die tema van fantasie ondersteun.
Verder tot hierdie snaarmusiek, kan feesgangers ook uitsien na ander uitvoerings, waaronder: Klavierkoors (8 Augustus 19:30), Trio AéroClave (9 Augustus 13:30), Zorada se katedraal en kaperjol (9 Augustus 16:30) en Voces Cordis, onder leiding van André van der Merwe (10 Augustus 12:30).
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al nege uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, Bakenskraal Ostrich Palace, Beit Shalom Guesthouse, Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Mooiplaas Guest House, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor en Rosenhof Country House.
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Klein Karoo Klassique Galakonsert. Foto: © Hans van der Veen
Rosamund Roth (tjello) by Klein Karoo Klassique 2025.
Jana van der Walt (harp) by Klein Karoo Klassique 2025.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’