OUDTSHOORN NUUS - Die Kunstevriende van Oudtshoorn bied volgende Dinsdag 15 Mei hulle tweede kunste-aand by die Ostrich Emporium aan, sedert hulle verlede maand op die been gebring is. Die vorige geleentheid, sowat vyf weke gelede, was uitstekend ondersteun.
Vir Dinsdagaand is musiek en gedigte op die spyskaart. Al vyf kunstenaars wat optree is plaaslik, juis om plaaslike talent aan inwoners bekend te stel. Twee musikante, Jaco Kriek (saksofoon) en Marisca Rain (kitaar en sang) gaan vir 'n verskeidenheid musiek sorg.
Die drie plaaslike skrywers en digters wat reeds hulle merk in die skryf- en poësieveld gemaak het en van hulle eie werke gaan voorlees is: Hannes Visser, Coen Basoon en Susan Ongansie.
Die aand begin om 18:00 met musiek deur Jaco Kriek en die amptelike program van ongeveer 'n uur, begin om 18:30. Soos met die vorige keer kan gaste hulle eie eet- en drinkgoed bring en saam kuier.
Om kostes te dek word toegangsgeld van R50 per persoon gevra. Kaartjies is by die Herrie beskikbaar.
Vir verdere inligting kan die Herrie geskakel word by 044 272 5688.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'