VERMAAKNUUS - Willem Anker en Jaco Bouwer se Samsa-masjien is “terug op die planke” en teaterliefhebbers kan nou eksklusief dié multi-bekroonde produksie as verfilmde drama geniet as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees in 2021.
Sedert dié produksie in 2012 by die KKNK gedebuteer het, het dit skoonskip gemaak by verskeie toekenningsgeleenthede.
Nie net het Samsa-masjien vier KKNK Kanna-pryse (uit ses nominasies) in 2012 ontvang nie, dit was ook die groot wenner by die Fleur du Cap-pryse in 2015.
Gerben Kamper is bekroon met die Fleur du Cap- en Kanna-pryse as beste akteur en Bouwer met die Fleur du Cap- en Kanna-pryse as beste regisseur, asook die Fleur du Cap vir beste stelontwerp. Pierre-Henri Wicomb het die Fleur du Cap vir beste klankontwerp ontvang, terwyl Anker met die Fleur du Cap vir beste Suid-Afrikaanse teks bekroon is (die teks was ook die ATKV Woordveertjie-wenner vir beste dramateks in 2012).
Antoinette Kellermann is bekroon met die Kanna vir beste aktrise en Samsa-masjien ontvang die KKNK se Herrie-prys vir Kopverskuiwende werk. Gregor Samsa (Kamper) en sy vrou (Kellermann) woon op hul oudag by hul dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge). Gregor ervaar ’n stelselmatige insekwording, wat deur sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementialyers. Oral waar hy kyk, sien hy insekte en voel hulle op hom loop. Sy dogter, ’n kopieskrywer, kleur dié verhaal verder in met vertellings aan haar terapeut.
Die verhaal speel op drie plekke op ’n dubbelverdieping stel af, in ruimtes wat doelbewus gekies is.
Kaartjies
Kaartjies vir die aanlyn weergawe van Samsa-masjien is van Donderdag 8 Julie tot Sondag 1 Augustus beskikbaar en kos R150 met 10% afslag aan ATKV- en Klieklede. Kaartjies is by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Samsa-masjien. Samsa-masjien het ’n ouderdomsbeperking van 18 jaar, weens tonele met seks, naaktheid en sterk taalgebruik.
Teaterliefhebbers kan ook steeds vir ’n beperkte tyd Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo aanlyn geniet. Kaartjies is ook teen R150 by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Naaimasjien.
En as jy dit gemis het, die geliefde Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk se eenmanvertoning Sê groete vir Ma is ook binnekort aanlyn te sien as deel van die KKNK se virtuele teaterprogram.
Hou die KKNK se sosiale mediaplatforms en webblad dop vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'