OUDTSHOORN NUUS - Bring Saterdagoggend om 08:00 ’n boek na Arbeidsgenot en sit rustig in die tuin en lees voordat die dag se miniskrywersfees begin.
Die skrywersdag word deur die Arbeidsgenot-komitee aangebied om plaaslike skrywers aan inwoners bekend te stel, maar ook om Arbeidsgenot bekend te stel en lees te bevorder.
Die dag word begin met ’n geleentheid tussen 08:00 en 08:45 waar inwoners in die tuin kan sit en lees. Daarna word almal genooi om die AJV van die Langenhoven Gedenkfonds wat Arbeidsgenot se sake bestuur, vanaf 09:00 tot 09:45 in Die Neelsie by te woon.
Vanaf 10:00 tot om ongeveer 12:30 kry tien plaaslike skrywers die geleentheid om elkeen kortliks oor hulle skryfwerk en boeke te gesels.
Toegang is gratis en daar is ook gratis koffie en tee beskikbaar.
Die skrywers wat oor hul boeke gaan gesels en ook boeke te koop beskikbaar sal hê is Stephan Henrico, Susan Ongansie, Marcus Saayman, Charmaine Beneke, Leon Coetzee, Maretha van der Westhuysen, Andries Marais, Eunice Strydom, Kobus Minnie en Maritha Lamprecht.
Skrywer en digter, Hannes Visser, stel die skrywers bekend. Daar word ook beplan om Arbeidsgenot vir die oggend oop te stel en besoekers is welkom om ’n donasie te laat om dié bekende museum wat Langenhoven se huis was, te besoek.
Die dag word deur die Arbeidsgenot-komitee aangebied, wat almal vrywilligers is wat Arbeidsgenot en Die Neelsie-teater onder inwoners en besoekers bemark.
Vir meer inligting skakel Hannes by 083 467 1522.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’