OUDTSHOORN NUUS - ’n Groot eer het die bekende Oudtshoorn-fotograaf Hans van der Veen te beurt geval toe hy op 14 Mei tydens die Kanna-toekennings in Franschhoek met die spesiale Kanna vir diens aan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vereer is.
Van der Veen is reeds vir bykans drie dekades nou verbind aan die fees en het sedert 1995 as vryskutfotograaf by die KKNK betrokke geraak.
Sedert 2010 is hy voltyds deel van die fees se fotografiespan en het hy ’n onmiskenbare rol gespeel in die visuele dokumentering van een van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse kunstefeeste.
’n Lewe agter die lens
Sy liefde vir fotografie het egter lank voor sy betrokkenheid by die KKNK begin. Nadat hy in 1996 uit die weermag bedank het, het Van der Veen hom in Oudtshoorn gevestig waar hy ’n fotografiebesigheid begin het. Hy is tydens die KKNK se beginjare deur kunstenaars gevra om hul optredes en produksies af te neem.
“Van daar af het dit net gegroei totdat ek amptelik vir die fees begin werk het,” vertel hy.
Hoewel fotografie sy groot passie gebly het, het Van der Veen in 2013 ook weer sy sielkundeberoep in die weermag hervat.
30 jaar se herinneringe
Tydens vanjaar se 30-jaarvieringe van die KKNK het Van der Veen ’n besondere rol gespeel deur te help om historiese foto’s saam te stel vir die fees se herdenkingspublikasie.
“Ek het deur 114 000 foto’s gewerk,” vertel hy laggend. “Sommige was nog met filmkameras geneem en moes eers geskandeer word. Dit was ongelooflik om deur die argiewe te werk en al die herinneringe weer te beleef.”
Die proses het nie net die groei van die fees uitgelig nie, maar ook die ontwikkeling van kunstenaars, produksies en die Afrikaanse kultuurlandskap oor drie dekades.
’n Kosbare erkenning
Volgens Van der Veen was die ontvangs van die spesiale Kanna-toekenning ’n besonder emosionele en betekenisvolle oomblik.
“Dit gaan oor showing up,” sê hy. “Ek was vir 30 jaar deel daarvan en elke oomblik was spesiaal. Jy bou verhoudings, ontmoet nuwe mense en raak deel van iets wat werklik betekenis dra. Ek kon die vloei en ontwikkeling van ons kulturele landskap deur my lens dop hou. Dit was ’n ongelooflik verrykende ervaring.”
Hy beskryf sy betrokkenheid by die KKNK as een van die groot voorregte.
Die pad vorentoe
Hoewel ’n rustiger lewensfase stadig nader kom, sê Van der Veen sien hy homself steeds as deel van die fees se storie.
“Ek sal graag betrokke wil bly om die groei, die mense en die kultuur deur my lens vas te vang,” sê hy.
Vir baie feesgangers en kunstenaars is Hans van der Veen nie net ’n fotograaf nie, maar ’n stille kroniekskrywer van die KKNK se geskiedenis, iemand wat oor jare heen die oomblikke, emosies en energie van die fees vir die nageslag bewaar het.
Lees ook:
Vier Kannas vir plekspesifieke drama by KKNK
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’