Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO'S - Daar is nog net ‘n paar dae oor van die KKNK, maar daar is nog baie om te sien.
Stalletjies
Die stalletjies is elke dag van 10:00 tot 21:00 oop en jy kan behoorlik kies en keur. Daar is ook plaaslike kunstenaars, soos Earlyn Cloud en Hilton Jackson wat hul kunswerke en -vernuf ten toon stel.
Nog ‘n interessante stalletjie om te besoek is die van Jaco Snyman, ‘n prokureur van George wat sy eie sigare maak.
Absa-kuiertuin
Die Absa-kuiertuin is ook elke dag van 10:00 tot 19:00 oop waar feesgangers kan ontspan en ‘n verskeidenheid plaaslik vervaardigde produkte kan koop. Toegang is gratis, maar geen o.18’s word toegelaat nie.
Die Absa-kuierkamer, is waar Hannes van Wyk sy immergewilde Koffietafel-gesprekke voer en dr. Paul Bayliss, Absa se senior spesialis kunskurator, in die middae kunsgesprekke voer.
Castle Lager-verhoog
By die Castle Lager-verhoog kan feesgangers met hul kos en drankie ontspan en na bekendes op die verhoor luister.
Vandag van 16:00 af sal Jakkie Louw, Grancille Micheals en Karin Kortje optree. Môre om 12:00 tree die Donkiekar-boereorkes op en om 20:00 tree Early B en Justin Vega op. Saterdag om 19:00 tree Leah op en om 20:00 sluit Ruhan du Toit die Castle Lager-verhoog af.
Gesprekke
Feesgangers kan daagliks na gratis gesprekke by die Netwerk24-feeskafee luister. Vandag om 14:00 gesels Matty Strydom en Haidee Muller-Isaacs, RSG-omroeper, oor Hier waar ek nou is. En om 16:00 gesels Daniël Hugo met Pieter van Wyk oor sy boek, Tussen twee vure wat deur Turksvy Publikasies uitgegee is.
Môre gesels Michéle Meyer met Elana van der Merwe, joernalis en boekredakteur, oor Meyer se boek, Moer.
By die De Jager-sportkompleks is daar ook elke dag tussen 11:00 en 12:00 gesprekke met Hannes Visser, oudredakteur van Oudtshoorn Courant en mede-eienaar van Turksvy Publikasies.
Môre gesels hulle oor kinderboeke met Marlene Malan, mede-eienaar van Turksvy Publikasies, Ronell Lareman en Jurina Aucamp. Saterdag gesels hy met Ricardo Arends oor skrywersontwikkeling.
Vir meer gesprekke besoek https://kknk2022.kknk.co.za/kknk-2022-gesprekke/
Staptoer
Daar is ook elke oggend ‘n historiese wandeltoer deur Oudtshoorn. Die staptoer begin 08:30 en kos R85. Roydin Engelbrecht, van RJ Tours, bied die toer aan. Dit is ‘n gemaklike staptoer waar daar besoek afgelê word by belangrike argitektoniese geboue in Oudtshoorn, wat as grondslag dien vir toeligting van en ’n bespreking oor die geskiedenis van Oudtshoorn.
Die ontwikkeling van Oudtshoorn is vanaf 1860 onlosmaaklik verbind aan die volstruisveerbedryf.
VIDEO'S: Elaine van der Toor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'