OUDTSHOORN NUUS - Twaalf maande nadat Aanpassingsklas 47 (AK47) in die lewe geroep is met die doel om teater na skole en alle gemeenskappe in die Groter Oudtshoorn te bring, is drie verhoogstukke die afgelope naweek in die SAW-ouditorium by die Infanterieskool opgevoer.
Langenhoven Gimnasium se stuk, Anderkant, was Vrydagaand om 19:00 aan die beurt, gevolg deur Wat maak tyd, van Dysselsdorp Sekondêr op Saterdagmiddag.
Die mini-teaterfees is Saterdagaand afgesluit met Bridgton Sekondêr se Tarras in Attaqualand.
Ricardo Arendse, dramaturg, skrywer en stigterslid van AK47 het verlede jaar reeds die visie gedeel om 'n teaterfees op die been te bring wat nie net jongmense bemagtig en oplei in teaterwese nie, maar ook om gemeenskappe deur die teater bymekaar te bring. Hy het hierdie oogmerk Saterdagaand na afloop van die Bridgton-leerders se stuk weer benadruk.
"Daar is soveel mense in Oudtshoorn wat nog nooit 'n verhoogstuk bygewoon het nie. Daar is soveel talent onder ons leerders wat ook nooit kans kry om daardie talent te laat lewe kry nie en nou is die geleentheid geskep vir daardie blootstelling."
Arendse het hierdie week met Oudtshoorn Courant gesels en gesê hy is trots op die meer as 30 leerders, hulle onderwysers en die vrywillige mentors wat deurgedruk het om hierdie drie verhoogstukke die lig te laat sien. Hy noem as voorbeeld dat die verhoogstuk van Dysselsdorp Sekondêr geheel en al deur 'n 15-jarige leerder geskryf is en dat dieselfde leerder boonop ook die hoofrol vertolk het.
Hy gee toe dat daar talle uitdagings was, waarvan befondsing die grootste is. "Gelukkig het die munisipaliteit ingestem om ons met 'n bydrae te steun wat noodsaaklik is vir die dek van klank en beligting waarsonder ons nie die produksies sou hê nie," het hy gesê.
Ongeveer 400 mense het elk van die vertonings bygewoon, sê Arendse. "Dit is wonderlik dat meer as 1 000 mense van alle dele van Oudtshoorn bymekaargekom het om te sien wat ons jongmense kan doen - hier is talent en dit is wonderlik om te sien dat mense dit waardeer."
Ten spyte van die uitdagings van die afgelope 12 maande is Arendse en die spannetjie van AK47 vasbeslote om die teaterfees weer volgende jaar aan te bied. "Hierdie was ons proeflopie en 'n leerskool en dit het ook die skole wat nie vanjaar betrokke kon raak nie, aangespoor om volgende jaar deel te neem." Hy noem dat daar reeds hierdie week vergader word om volgende jaar se fees te begin beplan.
"Ons almal sê uit ons harte dankie aan elkeen wat betrokke was by hierdie teaterfees. Sonder elkeen se bydrae sou ons die nie kon regkry nie," het Arendse, wat binnekort Gauteng toe vertrek vir skryfwerk, gesê.
"Ek is terug by die huis en by my gemeenskap - ek werk soms weg, maar Oudtshoorn is my huis."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
             
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                         
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                