So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat vir die 22ste keer van 24 tot 30 Maart 2016 aangebied word. Die feesprogram is vandag, Sondag 29 November, by die Nooitgedacht Landgoed in Stellenbosch bekendgemaak. Hulde is gebring aan die wenners van die Onbeperk-pryse.
Die vereerdes is: Willem Anker (Afrikaans Onbeperk vir Vernuwende Denke), Simon Witbooi (Kunste Onbeperk Kruispunt), Antoinette Kellermann (Kunste Onbeperk vir Vertolking), Eduard Greyling (Kunste Onbeperk vir Lewensbydrae) en Petra Müller (Afrikaans Onbeperk vir Lewensbydrae).
Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, beloof Antoinette Kellermann ’n kragtoer in die rol van die baasspelerige matriarg in Federico García Lorca se Die huis van Bernarda Alba, verwerk deur en onder regie van Christiaan Olwagen.
“Willem Anker het agt kort werke vertaal vir Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett, ’n interessante projek waarin vier akteurs, Gerben Kamper, Nicole Holm, Albert Pretorius en Llandi Beeslaar, onder leiding van vyf regisseurs, waaronder Jaco Bouwer, Sandra Temmingh en Lara Bye, die kortkuns van dié invloedryke skrywer vertolk”, sê Theart.
Kletsrymer HemelBesem (Simon Witbooi), wys sy veelsydigheid. In Die Afrikaansvatter, bewerk hy, saam met onder meer Coenie de Villiers, ’n opwindende oorbrugging tussen woordkuns, musiek, rymklets, tatoeëer-kuns en dans. Op ’n ernstige noot, is ’n platform vir sy komiese talente en in Rymklets van Oos tot Wes, is dit al die pad Afrikaanse hip-hop.
Opgedra aan Eduard Greyling, herdenk die Cape Dance Company hul 21ste bestaansjaar by die KKNK met twee substansiële dansprogramme.
Uitkampteater is ’n innoverende nuwe konsep by die fees. “Kort, konseptuele teater word in tien tentjies op die Medie24-grasperk aangebied. Onder die kampeerders is twee Nederlandse geselskappe en jong Suid-Afrikaanse teatermakers. Verwag beslis die onverwagse”, vertel Theart.
Snyman is opgewonde oor die aanbod van gesinsvermaak by die fees. “Die hoogtepunt is sekerlik die debuut musiekblyspel Heidi met musiek deur Mynie Grové en teks en regie deur Francois Toerien. Tobie Cronjé vertolk die rol van Juffrou Rottenmeier en Dawid Minnaar, Albert Maritz, Ilse Klink, Lynette Kenned, Dean Balie, Marlo Minnaar en Jill Middlekop jodel saam met Heidi (Karli Heine) in die Alpe”, vertel sy.
Tobie Cronjé se feespad kronkel verder saam met Nicola Hanekom en Wilhelm van der Walt in die riller, Kul (vertaling van Anthony Horowitz se Mindgames).
Nog nuwe dramas is Hennie van Greunen se produksie van die bekroonde Pa (vertaling van Florian Zeller se The Father) met Chris van Niekerk, Stian Bam en Milan Murray; Invisible met Vinette Ebrahim; Die Man Jesus met Marcel van Heerden; ’n Kat in die Duiwehok met Eric Nobbs; en Saartjie Botha se ’n Geworry met Elize Cawood en Wilson Dunster.
Die ikoniese Suid-Afrikaanse toneelstuk Sizwe Banzi is Dead deur Athol Fugard, John Kani en Winston Ntshona met regie deur John Kani is vir Theart ’n hoogtepunt. Ander hoogtepunte sluit in: Amper, Vrystaat; Hemelruim; Son.Maan.Sterre; Die Dag is Bros; Blou-Blou; Klein Jakkalsies en Santa Gamka.
Onder die 14 komedies tel twee klugte waaronder die klassieke Hond se Gedagte en ’n Ray Cooney-debuut: Daa’ gat die Bruid. Dowwe Dolla sleep vir Ouma Dolla verhoog toe. Solo-vertonings word ook aangebied deur Marion Holm, Chris Vorster, Neels van Jaarsveld, Anthea Thompson, Schalk Bezuidenhout en Radio Raps.
Plekspesifieke aanbiedings is weer op die KKNK se pad, dié keer met ’n magiese plekspesifieke vertoning, Nagwandelaars, met akteur-kulkunstenaar Geon Nel in ’n behoorlike spookhuis en The Tourists, ’n sosio-politieke dramedie, wat as ’n toer deur Bongolethu aangebied word.
Klassieke musiek is behoorlik op die feespadkaart met die internasionaal bekroonde Suid-Afrikaners: die fluitspeler, Stefan Temmingh (wat vir die eerste keer by die KKNK te sien is); pianis Ben Schoeman, die Tygerberg Kinderkoor en die sopraan Megan Kahts, met ’n spesiale Weense liefdesprogram.
Die onderwerpe in Die Burger se diskoers-reeks, is lekker warm en dek plaaslike regering, landbou-ekonomie, godsdiens, tersiêre onderrig, selfdood onder tieners en ontwikkeling in rugby. Hannes van Wyk gesels onder meer met John Kani en Sandra Prinsloo en dr. Paul Bayliss bied daagliks kunsgesprekke aan. Al die gesprekke by die fees is gratis.
Nog ’n nuutjie is die ATKV-Kampvuur, waar digters, skrywers en storievertellers elke aand onder die Karoo-sterreprag kuier met spesiale programme van inheemse stories, woord- en digkuns. Kaartjiepryse sluit aandete in.
Die Rivierbuurt sorg vir opwindende gesinsvermaak, teen 2015 se pryse.
Snyman het feesgangers aangemoedig om die pad na Oudtshoorn te vat vir hierdie unieke gesinsavontuur, omvou met die Klein Karoo se plattelandse gasvryheid.