OUDTSHOORN NUUS - Woensdagoggend, 28 Januarie, het inwoners van De Rust 'n memorandum aan kapt. Stella Maxongo, stasiebevelvoerder van die De Rust-polisiestasie, oorhandig om hul kommer oor kriminele gedrag deur minderjariges te laat hoor.
Die memorandum is deur die AfriForum De Rust-buurtwag opgestel en deur 175 inwoners onderteken.
Volgens die memorandum is die gemeen-skap gefrustreerd oor die situasie en versoek hulle dat die polisie en maatskaplike dienste 'n daadwerklike plan van aksie aan die dorp moet voorlê. Johan Olivier van die buurtwag het gesê dat 'n klein groepie kinders "die dorp oorneem".
"Daar is gereelde voorvalle van inbrake, beskadiging van eiendom, intimidasie van inwoners en toeriste, en aanhoudings wat gepaardgaan met vieslike taal," het hy gesê.
Die situasie beïnvloed nie net die veiligheid van inwoners nie, maar ook die plaaslike ekonomie. Sakelui meen dat toeriste die dorp verlaat weens die probleme, terwyl besighede verliese ly as gevolg van die kinders se gedrag.
Inwoners sê hulle voel nie meer veilig in De Rust nie, en dat hul kwaliteit van lewe daardeur benadeel word.
Die memorandum beklemtoon ook dat verskeie klagtes by die polisie ingedien is, maar sonder konkrete uitslae van die polisie of maatskaplike dienste. Volgens die dokument is die betrokke kinders skoolouderdom, maar hulle is nie in die skool nie.
Vorige berigte:
- Nou steel kinders visse
- Straatkind veroorsaak chaos in middedorp
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’