Update
OUDTSHOORN NUUS - Joanika Leonard van Oudtshoorn is verlede week aangewys as die wenner van die embleem-kompetisie van die Ek is Oudtshoorn-inisiatief. Die inisiatief is 'n aantal maande gelede deur 'n aantal rolspelers van stapel gestuur om mense se persepsie oor Oudtshoorn positief te verander.
Met die bekendstelling van die inisiatief het Jaco Vorster, bekende sakeman, gesê elke inwoner in Oudtshoorn is 'n verteenwoordiger van die dorp en elkeen speel 'n rol in watter beeld van die dorp na buite gedra word.
Daar is in Junie besluit om 'n kompetisie te hou waar mense genooi word om 'n embleem wat die boodskap van 'Ek is Oudtshoorn' verteenwoordig, te ontwerp.
Volgens Vorster het hulle 'n groot aantal inskrywings van alle vlakke van die gemeenskap ontvang. Drie kundige beoordelaars het die inskrywings beoordeel en die konsep van Joanika is as die beste een gekies.
Sy het verlede week gesê sy het vyf voorstelle ingehandig. Haar weninskrywing is nog 'n geheim, want twee ontwerpers is tans besig om die konsep aan te pas en tot 'n finale embleem te verwerk.
Volgens Vorster verwag hulle dat die finale ontwerp teen die einde van September bekendgestel sal word. Joanika het verskeie pryse wat deur ondernemings geskenk is, gewen en sal ook aan 'n aantal gemeenskapsprojekte deelneem as deel van die Ek is Oudtshoorn-inisiatief.
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, het Joanika se pryse oorhandig en gesê hy glo dat 'n projek soos Ek is Oudtshoorn 'n positiewe inisiatief is en dat dit die volle ondersteuning van die munisipaliteit geniet.
Lees 'n vorige artikel hier: Ek is Oudtshoorn: Kompetisie-wenner
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'