OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo Voetslaanklub het op Saterdag 15 Augustus die Half-Collared Kingfisher-dagstap by Ebb & Flo in Wildernis aangepak.
Die gewilde staproete langs die Touwrivier bied ’n besonder aangename ervaring, met goedversorgde gedeeltes waar stappers deur die natuurlike woude op netjies geboude sintetiese houtpaadjies met relings aan weerskante beweeg.
Houttrappies op moeiliker dele van die roete maak die stap verder makliker en veiliger. Geen wonder dus dat die roete, wat geskik is vir stappers van verskillende fiksheidsvlakke, so gewild is nie.
Die groep het om 09:00 by die ingang van die Ebb & Flo-vakansieoord aangekom.
Van daar het die stappers die roete na die waterval aangepak. Die afstand word op verskillende bronne egter verskillend aangedui, met die amptelike inligtingsborde wat ’n afstand van 8 km vermeld. Verskillende GPS-toestelle en staptoepassings het afstande tussen 4,3 km en 10 km aangedui.
Die roete kronkel deur pragtige natuurlike woude langs die Touwrivier.
Weelderige varings, varkore en talle ander plantegroei vorm deel van die besonder mooi landskap, terwyl die hoër dele van die eerste gedeelte van die roete stappers met uitsigte oor die Ebb & Flo-vakansieoord en die klowe waardeur die Touwrivier vloei, beloon.
Die rustige natuurlike omgewing dra by tot ’n gevoel van ontspanning en welstand. Dit was ook duidelik op die gesigte van die talle ander stappers wat die groep langs die roete teëgekom het, almal het ontspanne, vriendelik en opgewek gelyk.
Aan die oorkant van die rivier loop die roete oor lang dele op ’n houtpaadjie en deur middel van houttrappies tot by die waterval. Die groep het daar middagete geniet en ook tyd ingeruim om tussen die rotse in die omgewing rond te beweeg.
Die waterval was ’n gewilde bestemming, met heelwat ander besoekers wat die sonnige dag daar geniet het. Hoewel sommige besoekers op die rotse gelê en sonbaai het, het niemand dit blykbaar gewaag om in die koue water te swem nie.
Voëlkykers het ook rede gehad om opgewonde te wees. Langs die roete kon die roep van onder meer visarende, loeries en eende gehoor word. Die groot aantal mense op die roete het dit egter moeilik gemaak om die voëls van naderby te sien.
Die groep het kort voor 12:00 met die terugtog begin en net voor 14:00 weer by die beginpunt aangekom.
Die dag is afgesluit met ’n drankie by die Blue Olive Restaurant in Wildernis, waarna die stappers rustig, ontspanne en tevrede na hul onderskeie tuistes teruggekeer het.
Vir voëlliefhebbers wat die Half-Collared Kingfisher-roete aanpak, is dit beslis die moeite werd om ’n verkyker saam te neem om die voëllewe langs die roete van naderby te bewonder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’