OUDTSHOORN NUUS - 'n Tweede Ek is Oudtshoorn-kenteken is by een van die dorp se ingange opgerig.
Die Oudtled Taskforce-organisasie van Bridgton het 'n rukkie gelede die Oudtshoorn-besigheidskamer genader met 'n versoek dat hulle 'n teken soos die een vanuit Calitzdorp se rigting ook by die ingang vanaf De Rust wil laat oprig.
Die bakens is deel van die Ek is Oudtshoorn-inisiatief wat sowat twee jaar gelede begin is en daar is ook een by die kruising van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg.
Die kenteken by Bridgton is onlangs op die hoek van Kollegeweg en Voortrekkerweg opgerig. Volgens Jacobus Martin van Oudtled het hulle reeds in November 2020 samesprekings met die besigheidskamer gevoer om dié teken op te rig.
"Die feit dat ons die baken na Bridgton en Colridge toe bring is simbolies van die noue samewerking waarna ons as die breë gemeenskap streef. Die kenteken bring ook 'n gevoel van trots onder die hele Oudtshoorn," het hy benadruk.
Om hulle ondersteuning aan die Ek is Oudtshoorn-inisiatief te onderstreep het Oudtled ook verlede week 15 doringbome naby die kenteken geplant. Hierdie bome is deel van die Trees of Hope-projek waardeur meer as 'n duisend bome in en rondom Oudtshoorn reeds geplant is. Trees of Hope was die inisiatief van die sakeman en voorsitter van die besigheidskamer, Jaco Vorster. Vorster het gesê dit is verblydend om te sien hoe gemeenskappe betrokke raak om hul onmiddellike omgewing te verfraai.
"Die hele idee van Ek is Oudtshoorn is juis om mense aan te moedig om eienaarskap van hulle eie omgewing te neem," het Vorster gesê. Hy het ook Donderdagaand tydens die besigheidskamer se maandelikse netwerkaand na die oprigting van die nuutste Ek is Oudtshoorn-kenteken in Bridgton verwys toe hy na die gemeenskap se ondersteuning van verskeie projekte verwys het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'