OUDTSHOORN NUUS - "Onderwys en veiligheid in gemeenskappe is die burgerregteorganisasie Kaapse Forum se belangrikste fokusareas."
Só het Heindrich Wyngaard, voorsitter van die Kaapse Forum, Saterdagoggend tydens sy openingstoespraak by die organisasie se tweede mini-onderwyssimposium by die Oudtshoorn Inn gesê.
Wyngaard het sy kommer uitgespreek oor jong meisies wat swanger raak, maar gesê hy is selfs meer bekommerd oor die seuns. Hy het veral verwys na die groot aantal bruin seuns wat tans in tronke is, asook die bendes op Oudtshoorn wat die lewe vir inwoners moeilik maak.
"Die statistieke is verstommend. Die uitdagings is baie. Ons is in die moeilikheid, en onderwys is die enigste manier om dit aan te spreek."
Hy het ook gesê dit is kommerwekkend dat so min bruin leerders ná matriek by tersiêre instellings gaan studeer.
Keith Meyer, 'n afgetrede skoolhoof van Ladismith, het oor onderwysers se werksetiek gepraat en gesê dit is nie iets waarmee 'n mens gebore word nie.
Volgens hom is die daaglikse afwesigheid van onderwysers en dié wat gedurende klastyd met hul selfone besig is, ernstige probleme wat met wortel en tak uitgeroei moet word. "Dit is 'n onreg wat ons 'n kind aandoen, en miskien is 'n wet nodig om dit te verbied."
Fredelene Koeries, 'n ervare maatskaplike werker, sê sy is besorgd oor die groot aantal kinders wat daagliks in Oudtshoorn se strate rondloop. "Ons kinders ken nie speletjies soos Skeluloë en Wolf agter die berg nie."
Volgens Koeries is onderwysers nie eens meer veilig in hul eie klaskamers nie, en kinders rook reeds voor skool dagga.
Sy het ook gewys op die negatiewe gevolge wat 'n afwesige pa in 'n seun se lewe kan hê.
Glen Snyman van die Pardoning Teachers Movement het boeliegedrag by skole betreur.
Volgens hom word daar nie rekord gehou van leerders se oortredings nie, hoewel wetgewing daarvoor voorsiening maak. "Ons gesindheid teenoor die straf van kinders sal moet regkom. Kinders kan nie net vir hul boeliegedrag verskoon word nie," het hy gesê.
Lampies Lötter van Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum het beklemtoon dat skole nie skaam moet wees om by mekaar te leer nie. Volgens hom is roetine, voorbereiding en dissipline by skole van groot belang. Hy sê een van die grootste probleme is dat kinders deesdae nie meer behoorlik geleer word hoe om inligting te memoriseer en op te som nie.
Alwena Ellis van die Little Big Tutoring Centre het die belangrikheid van taal en lees beklemtoon. Sy het gesê meertaligheid behoort nie as 'n vyand beskou te word nie, en dat leesvaardigheid 'n belangrike rol in leerders se ontwikkeling speel.
Patrick Blaauw, voorsitter van die Eden GPF, het 'n beroep op ouers gedoen om meer betrokke te raak by skoolaan-geleenthede en ouervergaderings by te woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’