OUDTSHOORN COURANT - Dele van die Grobbelaarsrivier tussen Noord- en Rademeyerstraat is Dinsdag deur vrywilligers en personeel van Cango Wildlife Ranch skoongemaak.
Dertien vrywilligers en vyf personeellede het die dag aan Mandela afgestaan en dele van die rivier,
waar hulle kon bykom, skoongemaak. Rommel wat opgetel is, is in swart sakke bymekaargemaak wat deur die munisipaliteit opgelaai is.
'n Span munisipale werkers het ook dele van die rivier skoongemaak. Hugo du Plessis, direkteur van operasies by Cango Wildlife Ranch, was saam met die span langs die rivier. Hy het gesê hy is verstom oor die hoeveelheid rommel wat langs die rivier lê.
"Daar is hope en hope rommel tussen die riete en die doringbome wat ons nie kan bykom nie. Mense besef nie dat 80% van die plastiek wat in die see beland met riviere langs uit die binneland kom nie en hier lê vreeslik baie wat met swaar reën ook die pad see toe gaan vind," het hy gesê waar die groep in Albertstraat besig was.
Vrywilligers van Cango Wildlife Ranch op die laagwaterbrug in Albertstraat.
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'