OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 756 skoolkinders van Oudtshoorn en omliggende gebiede het verlede week tandheelkundige behandeling tydens ’n grootskaalse mondgesondheidsuitreik by die Seppie Greeff-gebou se tandheelkundige kliniek ontvang.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, was die RotaryDent-projek, wat van 17 tot 21 Augustus aangebied is, ’n samewerking tussen mondgesondheidspanne van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand se Tuinroete-distrik en die Rotariërklub van Oudtshoorn.
Die kinders, afkomstig van ses laer- en ses hoërskole, is vooraf gekeur en ouers moes toestemming vir die behandeling gee.
Volgens dr. Chanel Biljohn, tandarts vir die Oudtshoorn-subdistrik, het die projek ten spyte van uitdagings met die langdurige kragonderbreking in Oudtshoorn voortgegaan. “Ons is dankbaar vir die Knysna-Bitou-, Mosselbaai- en Riversdal-spanne wat ons kom help het,” het sy gesê.
Die kragonderbrekings het die behandelings effe gekniehalter en kon die span hoofsaaklik fokus op die trek van tande.
“Van Woensdag af kon ons die herstellende en voorkomende werk soos beplan doen, wat vullings, skoonmaak en fissuurseëlmiddels ingesluit het,” het Biljohn gesê.
In totaal is 1 013 tande getrek, 67 vullings gedoen en 289 fissuurseëlmiddels aangebring. Die span het ook 61 skaal- en politoerbehandelings, asook 142 fluoriedbehandelings, uitgevoer.
Die projek het ontstaan nadat die Oudtshoorn-span verlede jaar ’n soortgelyke RotaryDent-uitreik in Knysna bygestaan het.
Volgens Biljohn het die behoefte aan ’n soortgelyke projek in Oudtshoorn duidelik geword nadat die 2025-uitreik in Knysna ’n groot aantal kinders behandel en gehelp het om wagtye vir tandheelkundige dienste te verminder.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ook ’n belangrike rol gespeel deur met die toestemmingsproses te help en kinders gedurende die week na en van die tandheelkundige kliniek te vervoer.
Die Rotariërklub van Oudtshoorn het intussen ondersteuning aan die projek gebied deur onder meer verblyf en maaltye vir die besoekende tandheelkundige spanne te reël, met vervoer te help en daagliks met die kinders by te staan.
Biljohn het gesê uitreike soos RotaryDent het ’n belangrike impak op mondgesondheidsdienste.
Sy het alle rolspelers en die tandheelkundige spanne bedank vir hul tyd, moeite en ondersteuning om die projek moontlik te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’